Nuus 06:00
BULLETIN 21 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie persone van belang word ondervra in verband met die Ekurhuleni-moorde
# ‘n Suid-Afrikaanse ondersoekende joernalis word vermis in Djiboeti
# En rugby: Pieter-Steph du Toit en Damian de Allende sal nie teen die Wallabies uitdraf nie
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het bevestig dat drie verdagtes vir ondervraging in hegtenis geneem is in verband met die moord op nege vroue in Ekurhuleni, Gauteng, oor die afgelope twee maande. Van die nege liggame wat gevind is, is daar een wat nie as vermiste persoon aangemeld is nie. Die owerhede waarsku teen bespiegeling en ongestaafde bewerings wat op sosiale media die ronde doen. Cachalia sê die voorlopige ondersoek het nie stawende bewyse opgelewer dat daar ‘n reeksmoordenaar in Ekurhuleni aktief is nie:
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en die polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, is intussen ingeroep om te help met die ondersoek na die Ekurhuleni-moorde. ‘n Hoëvlak-, multidissiplinêre span is aangewys om die moorde te ondersoek. Terselfdertyd het die polisie ‘n beloning van 400-duisend-rand uitgeloof vir inligting wat kan help met die ondersoek. Cachalia, sê beide menslike en finansiële hulpbronne word ingespan om ‘n deurbraak te maak:
# Die Suid-Afrikaanse ondersoekende joernalis, Micah Reddy, en sy plaaslike helper, Kooki Mahmoud, word volgens berigte in Djiboeti in Oos-Afrika vermis. Die omstandighede rondom die verdwyning van die twee mans, wat Saterdagmiddag vermis geraak het, is onbekend. Reddy is die Afrika-koördineerder by die Internasionale Konsortium van Ondersoekende Joernaliste. Hy sou na verwagting vandag die land verlaat. Die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste het ‘n beroep op die owerhede gedoen om onmiddellik inligting oor hul doen en late te gee en hul veiligheid te verseker.
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, Somadoda Fikeni, sê die nuwe Wet op die Staatsdienskommissie sal die liggaam se onafhanklikheid van staatsdepartemente versterk. Fikeni het aan die media gesê die kommissie sal oor ‘n onafhanklike sekretariaat en uitgebreide bevoegdhede beskik om bestuurspraktyke te ondersoek. Sy mandaat sal ook plaaslike regering, staatsbeheerde maatskappye en ander staatsentiteite insluit. Fikeni sê die veranderings sal die kommissie in staat stel om bestuursmislukkings onafhanklik te ondersoek, in plaas van om op ministers staat te maak:
# Gemeenskappe in Zimbabwe is gevra om betyds voor te berei vir die bedreiging van ‘n El Niño-droogte. Sonkragbesproeiing, klimaatinligting en klimaatslim boerdery help om voedselsekerheid in die droogtegeteisterde Chiredzi-gebied te versterk. Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê drie sonkragaangedrewe boorgate ondersteun ‘n gemeenskapstuin van drie hektaar. Die Afrika-unie se kommissaris vir Landbou, Landelike Ontwikkeling, die Blou Ekonomie en Volhoubare Omgewing, Moses Vilakati, het intussen beklemtoon hoe belangrik die beskerming van gewasse, vee, waterbronne en voedselvoorrade is. Hy sê gesamentlike optrede is noodsaaklik om gemeenskappe bestand te maak teen klimaatsuitdagings.
# Rugby: Die ervare tweemanskap, Pieter-Steph du Toit en Damian de Allende, sal nie Sondag in die Springbokke se eenmalige toetswedstryd teen Australië in Perth speel nie. Hulle is ná ‘n veeleisende werkslas vrygestel. Die afrigter, Rassie Erasmus, sê die toergroep beskik oor genoeg ervaring vir die wedstryd teen die Wallabies. Die wedstryd is vir albei spanne belangrik, aangesien die Wêreldbeker in 2027 in Australië aangebied word en die Bokke op 3 Oktober in hul openingswedstryd in Adelaide teen Italië te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-377-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….