Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Sasol se uitvoerende hoof, Fleetwood Grobler sê hulle werk aan maatreëls om die maatskappy se kontantvloei te versterk nadat sy halfjaarwinste met 34-persent gedaal het.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei vandag met belangrike inligting oor die verkiesing van 29 Mei waarvan alle kiesers moet kennis neem. Die OVK het inligting bekendgemaak oor belangrike datums en die samestelling van die stembriewe wat beskikbaar gestel gaan word.
En tweedens word berig oor Eskom se planne om die privaat sektor by die transmissienetwerk in te skakel om voorsiening te maak vir die 66-duisend megawatt wat die sektor gaan lewer.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor die SABC se planne om van spookwerkers ontslae te raak.
En berig oor oudpresident Jacob Zuma wat glo vreemde uitlandse wetgewing in Suid-Afrika wil verander.
# Sowetan:
Berig die hoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Isaac Mapiyeye sê hy kan nie verduidelik hoe sy tweede in bevel, Julius Mkhwanazi steeds bevorder is nadat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat aanbeveel het daar moet stappe teen hom gedoen word nie.
# En The Citizen:
Skryf die Gautengse regering kan volgens die Nasionale Tesourie steeds motoriste vervolg wat nie e-tol betaal nie. Outa sê egter hulle sal steeds elk van hierdie sake opvolg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die privaat sektor se bydrae tot Eskom se kragnetwerk.
Dan word berig ‘n senior Volksblad-joernalis, Alet van der Walt is ná ‘n kort stryd teen kanker in haar huis in Hennenman oorlede.
En laastens skryf die koerant oor die prestasie van die Bloemfonteinse fietsryer, Maddie le Roux terwyl haar ma Corné in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is met borskanker.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor twee rugbyspelers, die 28-jarige Joswin de Wee en 32-jarige Henlo Weber wat in ‘n botsing reg van voor naby die Boschenmeer-landgoed omgekom het.
Dan skryf die koerant oor die 18-jarige Nicole Manuel van Eersterivier wat hulpeloos moes toekyk hoe haar driejarige dogter Faith dood brand nadat onbekende mans glo ‘n petrolbom in die Wendy-huis waar hulle gewoon het, geslinger het.
En laastens is daar nuus oor ‘n trein in Indië wat 70-kilometer sonder ‘n masjinis aan die stuur afgelê het.
# En Cape Times:
Skryf die OVK het bekendgemaak 350 politieke partye is geregistreer om aan die verkiesing deel te neem.
En berig ook oor die regering se planne om die privaat sektor by Eskom se verspreidingsnetwerk in te skakel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se onderburgemeester, Babalwa Lobishe wil hê ‘n BBP-beskermingseenheid moet gestig word om raadslede te beskerm.
En skryf onderwysers by die Cedarberg Primary School in Booysenpark, het geen beheer oor die leerders nie. Hulle sluit by bendes aan, dreig onderwysers en klasmaats, bring wapens skool toe en verkoop openlik dagga op die skoolterrein.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor streng veiligheidsmaatreëls wat ingestel is met koning Misuzulu ka Zwelithini se toespraak in die Provinsiale Wetgewer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Staan sy hele voorblad af aan die begrafnis van wyle president Hage Geingob en skryf duisende Namibiërs het bymekaargekom om hul laaste eer aan Geingob te betoon.