Nuus 06:00
BULLETIN 15 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof sal vandag die ANC se saak oor kandidatelyste aanhoor
# Die minister van Vervoer is bedroef oor die slagoffers in twee noodlottige ongelukke
# En DNS-toetse is aangevra om die drie vermoorde vroue in Kemptonpark te identifiseer
# Die Verkiesingshof sal moontlik vandag die ANC se aansoek teen die Verkiesingskommissie aanhoor oor die indiening van kandidatelyste vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Die party beweer dat tegniese probleme met die kommissie se stelsel daartoe gelei het dat die besonderhede van 181 kandidate in ses rade nie voor die sperdatum van 28 Augustus om vyfuur namiddag vasgelê is nie. In dokumente voor die Verkiesingshof, voer die OVK aan dat sy ouditspoor geen stelselaktiwiteit toon in twee van die ses munisipaliteite wat die sentrale punt van die geskil vorm nie.
# Die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het haar besluit verdedig om die nuwe Nasionale Katalogus vir die Grondslagfase vir graad 1–3 op te skort. Sy sê openbare hulpbronne moet verantwoordelik hanteer word. Die minister het die katalogus opgeskort weens bestuurs- en finansiële risiko’s na aanleiding van ‘n onafhanklike ondersoek. Sy het gister by die Kaapstadse Persklub gesê sy wag op regsadvies van senior advokate. Sy het die bewering verwerp dat die afdwinging van ‘n regverdige proses ‘n aanval op transformasie is:
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het haar medelye betuig met die naasbestaandes van 29 mense wat in twee padongelukke dood is. Een-en-twintig mense is gister op die N1 in die Wes-Kaap dood in ‘n botsing waarby twee taxi’s en ‘n Suzuki Brezza-SUV betrokke was, terwyl agt mense Sondag in ‘n botsing reg van voor op die N17 naby Ermelo in Mpumalanga dood is. Die woordvoerder van die departement, Collen Msibi, sê die Padverkeersbestuurskorporasie is opdrag gegee om die ongelukke te ondersoek:
# DNS-toetse word uitgevoer om drie vroue uit te ken wie se liggame in Kemptonpark, Ekurhuleni, gevind is. Die Gautengse Departement van Gesondheid help met die polisie-ondersoek na die dood van vyf vroue wie se liggame tussen Julie en vandeesmaand gevind is. Twee van die vroue is reeds uitgeken, terwyl drie nog geïdentifiseer moet word. Steve Mabona van die Departement doen ‘n beroep op die families van vermiste persone om met die Forensiese Patologiediens in Germiston in verbinding te tree:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het die parlement versoek om die vinnige verwydering van aanklaer-generaal Ruslan Kravchenko goed te keur. Kravchenko het verlede week bedank te midde van ‘n korrupsie-ondersoek waarby sy kantoor betrokke is. Hy is nie aangekla of as ‘n verdagte genoem nie, maar een van sy personeellede word beskuldig dat hy met bedrog gehelp het. Die skandaal het spanning tussen Oekraïne se anti-korrupsie-agentskappe en tradisionele wetstoepassing vererger. Kravchenko het ook die hoof van die Nasionale Anti-korrupsieburo van oortredings beskuldig, bewerings wat deur die agentskap ontken word.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Les Kiss, sê hulle weet hulle sal moet verbeter voor volgende naweek se toets teen die Springbokke in Perth. Suid-Afrika is propvol selfvertroue nadat hulle die aartsvyand, Nieu-Seeland, 3-1 verslaan het in Rugby’s Greatest Rivalry danksy ‘n oortuigende oorwinning in die laaste toets in Baltimore. Kiss sê die wêreldkampioen gaan ‘n heeltemal ander uitdaging bied as tydens sy eerste vier toetse in beheer teen Japan en Argentinië. Hy besef Australië sal meer fisies en intens moet wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-652-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-295-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 107-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….