Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig fabrieksproduksie het in Julie met 1,1-persent gestyg ná drie opeenvolgende dalings. Die koerant skryf ses uit tien vervaardigingsafdelings het groei getoon in die herstellende sektor.
# Mail & Guardian:
Stel ondersoek in na die rol wat geld speel in die verkiesingsproses van die ANC. Die koerant skryf hoe partyleiers verkiesingskonferensies koop om te bepaal wie die topposte kry.
# En die Netwerk24-webblad:
Skryf soos Die Burger oor die Verkiesingskommissie wat in die Kieshof sê die weglating van ANC-kandidate is die party se eie skuld.
En tweedens berig die webblad DNS-profiele van die ses Suid-Afrikaners wat na die oorstromings in Nepal vermis word, is aan die plaaslike polisie en Interpol voorsien in ‘n poging om uitkenning te vergemaklik.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, sê die regering beskik nie oor bygewerkte statistiek oor grond in die besit van buitelandse burgers nie. Die jongste beskikbare oudit toon dat hulle 0,56-persent van Suid-Afrika se totale grondoppervlakte besit, maar dis afgelei van die grondoudit van 2017.
# Sowetan:
Berig die president van die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie, Danny Jordaan, kan môre tydens die SAFA-verkiesingskongres uit die kussings gelig word deur Sandile Zungu wat teen hom staan in die verkiesing.
# En The Citizen:
Skryf reg oor Suid-Afrika is die land se geskiedkundige monumente besig om te verweer en te verdwyn. Die koerant berig dis nie slegs monumente uit die koloniale en apartheidsera nie. Die Vryheidstrydmonumente word ook nie onderhou nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook die Verkiesingskommissie het in ‘n beëdigde verklaring voor die Kieshof gesê daar was geen fout met sy aanlyn registrasiestelsel nie en die ANC het in gebreke gebly om al sy kandidate te registreer.
Tweedens skryf die koerant die minister van Finansies, Enoch Godongwana sê die regering kan niks doen om verbruikers teen die stygende olieprys te beskerm nie.
En laastens is daar nuus oor prinses Diana se veelbesproke skouerlose rok wat volgens beraming ‘n paar miljoen op ‘n veiling gaan haal.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verskeie politieke partye het die parade geboikot wat gehou is voor die burgemeester van Msunduzi, Mzimkhulu Thebolla, sy stadsrede gelewer het. Die partye sê hulle doen dit om hul ongelukkigheid te kenne te gee oor swak dienslewering.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Jacob Zuma het die MK-party se presidensiële taakspan ontbind en Zandile Hlophe-Mkhwanazi as die burgemeesterskandidaat vir eThekwini vervang. Die koerant berig die besluit volg op bewerings van manipulasie van die lyste van raadslidkandidate wat by die Verkiesingskommissie ingedien is. Apostel Mxolisi Phakathi is as nuwe burgemeesterskandidaat aangestel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Al Tasnim-groep, wat in Oman gesetel is, stel belang om ’n beherende aandeel van 75-persent te verkry in ’n beplande marmerverwerkingsaanleg van 324-miljoen-rand in Karibib. Die koerant skryf werksgeleenthede en die oordrag van spesialisvaardighede word in die vooruitsig gestel.
En tweedens word berig die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming gaan waarskynlik die besetting van die staatsplaas Christerine No. 259 buite Dordabis in die Khomasstreek in die hof betwis.