Nuus 06:00
BULLETIN 11 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die Inkomstediens is besig om onwettige finansiële vloei aan bande te lê
# Transnet behaal sy eerste jaarlikse wins in vier jaar
# En JD Vance verdedig Trump se betalings aan alle Amerikaners ná die verkiesing
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskerp sy stryd teen onwettige finansiële vloei en die breër onwettige ekonomie. Gedurende die 2024/2025-boekjaar het die diens 10-duisend-142 beslagleggings by doeanes ter waarde van 6,3-miljard-rand aangeteken. Die diens het ook 763,7-miljoen-rand deur brandstof- en petroleumskemas ingevorder en 6,1-miljard-rand in verband met BTW-bedrog en die onwettige handel in goud. In reaksie op ‘n parlementêre vraag sê Godongwana hierdie resultate toon die werk van die Inkomstediens om onwettige finansiële vloei te bekamp, is aktief en gekoördineerd en kan verbind word met die regstreekse verhaling van inkomste.
# Die staatsbeheerde logistieke groep Transnet het ‘n wins van 4,6-miljard-rand aangekondig vir die boekjaar tot Maart 2026. Dit is sy eerste jaarlikse wins in vier jaar. Die maatskappy sê die resultaat is hoofsaaklik gedryf deur die verkoop van sy Pier 2-terminaal en verbeterde spoor- en pyplynvolumes. Inkomste het met 7,1-persent tot 88,6-miljard-rand gestyg. Transnet se herstel is ondersteun deur regeringswaarborge, wat likiditeit versterk en die skuldgeteisterde maatskappy gehelp het om ‘n potensiële wanbetaling te vermy.
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Julie met 1,1-persent gestyg teenoor dieselfde maand verlede jaar. Kos en drank, asook petroleum en chemiese produkte, was van die grootste bydraers tot die groei. Seisoensaangepaste produksie het van Junie af ook met 2,2-persent gestyg. Nicolai Claassen van Statistiek SA sê vervaardigingsverkope het met 3,9-persent in Julie gestyg nadat dit in die vorige twee maande gedaal het:
# Die Polisie- en Gevangenisse-burgerregte-vakbond sê die ontsnapping van ‘n gevangene uit die Rooigrond Korrektiewe Sentrum in Noordwes het uitdagings by korrektiewe fasiliteite onder die soeklig geplaas. Die vakbond verwelkom Edward Madiba se herarrestasie, maar die voorval wek kommer oor verouderende infrastruktuur, sekuriteitswakhede en personeeltekorte. Johannes Dire van Popcru sê korrektiewe beamptes het genoeg personeel, toerusting en behoorlike werksomstandighede nodig om fasiliteite veilig te hou:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sê die na-verkiesingsbetalings wat president Donald Trump aan alle volwasse Amerikaanse burgers belowe het, sal befonds word deur die handelstariewe. Trump het belowe om elke volwasse burger 80-duisend-rand te betaal as sy Republikeinse Party die Huis en Senaat in November se middeltermynverkiesing behou. Volgens berigte sal dit meer as 16-duisend-miljard-rand kos. Vance sê die administrasie toon ‘n groot inkomste omdat Trump uiteindelik opstaan teen beide lande en maatskappye wat voordeel getrek het uit Amerika se werkers.
# Atletiek: Prysgeld van meer as 160-miljoen-rand is op die spel tydens Wêreldatletiek se Ultimate-kampioenskap, wat vandag in Boedapest in Hongarye begin. Sowat 380 atlete neem deel, waaronder ses Suid-Afrikaners. Die mans-wêreldrekordhouer in paalspring, die Sweeds-Amerikaanse atleet Mondo Duplantis, is een van die groot trekpleisters vir die byeenkoms. Daar is geen kwotastelsel vir lande nie, met deelname uitsluitlik op prestasie gegrond. Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, sê die byeenkoms is geskep om te verseker elke seisoen word met ‘n groot internasionale kampioenskap afgesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-315-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 111-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….