Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig parlementslede beplan om die beperkings op damprook te verlig en die verkope van enkel-sigarette in die Tabakwetsontwerp te behou. Die koerant skryf die wetgewers steun openbare gesondheidsdoelwitte, maar moet dit teen ekonomiese werklikhede opweeg.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle nie te steur aan die woorde van opruiers nie. Hy sê die wette oor onwettige immigrante moet toegepas word maar die land se mense moet wys dat hulle nie haat in hul harte ronddra nie.
En tweedens skryf die webblad die polisie en die privaat sekuriteitsbedryf het hul bande verstewig voor die beplande 30 Junie-betogings.
GAUTENG:
# The Star:
Berig lede van die Motorbedryf Personeelvereniging is versoek om nie deel te neem aan die March-and-March-betoging op 30 Junie nie. Die vakbond sê deelname aan hierdie protesoptog word nie deur arbeidswetgewing beskerm nie. Omdat die staking nie wetlike beskerming het nie, kan enige afwesigheid van die werk lei tot tugmaatreëls, wat ontslag kan insluit.
# Sowetan:
Berig die werwingsproses van nuwe lede vir die Johannesburgse Metropolisie laat veel te wense oor. Die koerant praat met ‘n pompjoggie wat sy werk bedank het om aan te sluit en nou op hete kole wag.
# En The Citizen:
Skryf van volgende maand gaan die Nasionale Tesourie die fondse van 29 munisipaliteite landswyd terughou weens wanbesteding en die onvemoë om begrotings te aanvaar.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, is omgekrap oor Suid-Afrika se betrekkinge met China en Iran. Hy het op X gesê die mense van Suid-Afrika verdien ‘n eerlike gesprek oor die lande by wie hul regering verkies om hom te skaar.
En tweedens skryf die koerant Wes-Kaapse skole het ouers gevra om asseblief nie hul kinders in nagklere skool toe te stuur nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n familie van Sydenham is geskok oor die skielike onverklaarbare dood van ‘n kind.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n bedrogspul met rugbykaartjieverkope op die swartmark in Gqeberha.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die geskorste KwaZulu-Natalse Korrektiewe Dienste-kommissaris, Mnikelwa Nxele, is in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en geldwassery. Die aanklagte hou verband met bewerings wat van 2004 tot 2023 strek.
En tweedens word berig oor ‘n beweerde inbraak by die ANC se kantoor in Pietermaritzburg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die staatsbefondsde huis in Swakopmund wat oorspronklik vir die voormalige president Hage Geingob se aftrede gebou is, het die begroting van 36-miljoen-rand met meer as 500-duisend-rand oorskry.
Tweedens skryf die koerant die Russiese kaptein van ’n vissersboot is met 450-duisend-rand beboet in die Walvisbaai-streekhof.
En laastens is daar nuus oor die Duitse lugredery Condor wat vanaf Junie 2027 regstreekse vlugte tussen Frankfurt en Windhoek hervat.