Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf oor die Konstitusionele Hof se beslissing in die waterskeidingsaak oor die bekendmaking van die ANC se kaderontplooiing-program. Die hof het die party se aansoek van die hand gewys aangesien dit nie in die belang van geregtigheid is dat verlof tot appèl toegestaan word nie. Die ANC moet dus nou die rekords van die aanstelling van ondersteuners in sleutelposte in die openbare sektor bekendmaak.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die Stad Tshwane se planne om een-miljard-rand per maand se skuld in te samel om die hoofstad se finansiële probleme op te los.
En tweedens skryf die koerant ‘n 36-jarige pa van Centurion het skuld beken op aanranding nadat hy lyfstraf toegedien het op sy kinders van onderskeidelik sewe, vyf en drie jaar oud.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die ANC se terugslag met die hofbeslissing oor kaderontplooiing.
En berig oor ‘n leerkrag van Curro wat oor beweerde rassisme geskors is.
# Sowetan:
Berig oor Piet Groenewald en Stephan Greeff wat borgtog geweier is in die Groblersdal-landdroshof.
# En The Citizen:
Skryf die verhaal van ‘n 27-jarige Suid-Afrikaanse dokter wat ná ses jaar se studies en 25 aansoeke sonder werk sit omdat Kubaanse dokters in Suid-Afrikaanse staatshospitale aangestel word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die moordsaak van die 28-jarige boer Evan Sorour van Ficksburg. Daar is gister ‘n video van die moord in die rondgaande hof vertoon wat Sorour se famile ernstig onstel het.
Dan skryf die koerant die boedel van die Bloemfonteinse eiendomsmagnaat, Nic Georgiou sal vir eers gesekwestreer word nadat ‘n eis van 4,4-miljoen-rand teen die boedel ingedien is.
En laastens word berig die inwoners van die Jordanië-aftreeoord in Kroonstad is erg geskok nadat die liggame van Kobus en Pat van Tonder gevind is. Daar het ‘n vuurwapen langs die man gelê.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die ANC se kaderontplooiing-saak. Die koerant berig die DA-LP Leon Schreiber het die Konstitusionele Hof se beslissing bestempel as een van die grootste oorwinnings in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis.
En tweedens skryf die koerant Januarie was die warmste maand wêreldwyd sedert daar in 1850 begin is om temperature aan te teken.
# En Cape Times:
Skryf die koerant het met verskeie kenners gepraat oor die ANC se bewerings dat Eskom gesaboteer word.
En tweedens word berig die kaders van die ANC kan nou nêrens meer wegkruip nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig raadslede van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit dring daarop aan dat die sekuriteit by hul kantoor opgeknap word ná ‘n vlaag diefstalle daar voorgekom het.
En tweedens skryf die koerant oor die haglike toestand van die oop ruimtes in die stad. Die gebiede is só toegegroei dat dit selfs padtekens verberg.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP se oorwinning in die tussenverkiesing in Umzumbe het daartoe gelei dat die ANC sewe raadslede afgedank het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n groep Mwila-kinders wat in die Okuryangava-nedersetting langs ’n winkel woon moet bedags houtlepels, -koppies of kieries verkoop of bedel vir geld om te oorleef.
Dan skryf die koerant daar is verlede jaar reeds instemming bereik tussen die Federasie vir die Konstruksiebedrywe van Namibië en die Vakbond vir Metaal- en Verwante Werkers oor aanpassings in die minimumloon vir werknemers in die boubedryf.
En laastens is daar nuus oor die Hoarusibrivier in die Skedelkuspark wat die see bereik het.