Nuus 06:00
BULLETIN 1 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die doel van die elektrisiteitshervorming is nie om Eskom te privatiseer nie
# Die dodetal in die Nepal-Tibet-oorstromings styg steeds
# En sokker: Die Argentynse legende Lionel Messi tree uit
# President Cyril Ramaphosa sê die fokus op die modernisering en transformasie van Suid-Afrika se kragstelsel is om energiesekerheid te verseker en goedkoop en skoon elektrisiteit vir alle burgers te verskaf. In sy weeklikse nuusbrief sê hy die land moet wegbeweeg van sy eeue-oue afhanklikheid van ‘n enkele nutsverskaffer as hy hoop om ‘n bekostigbare, betroubare en volhoubare energietoekoms te verseker. Ramaphosa sê die transformasie van die struktuur van die elektrisiteitsektor beteken nie die privatisering van Eskom nie, maar die bou van ‘n beter stelsel.
# Die voormalige speaker van die Parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se korrupsiesaak is tot 7 September uitgestel vir uitspraak oor haar aansoek vir ontslag. Die Hooggeregshof in Pretoria het argumente van haar regspan en die staat aangehoor, wat die aansoek teengestaan het. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 korrupsie- en een geldwassery-aanklagte oor beweerde omkoopgeld van 4,5-miljoen-rand van ‘n diensverskaffer:
# Die woordvoerder van die Madlanga-kommissie, Jeremy Michaels, sê die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, is gedagvaar om vandag voor die kommissie te verskyn, en die dagvaarding bly van krag. Dit kom te midde van berigte dat Khan weer in die hospitaal opgeneem is nadat hy in Junie in Johannesburg geskiet en gewond is. Michaels het aan die media gesê die kommissie is nie amptelik deur Khan se regsverteenwoordigers oor sy gesondheidstatus ingelig nie:
# Die DA in die Wes-Kaap vra ‘n dringende ondersoek na ‘n video wat wys hoe ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ‘n vrou in Tafelsig, Mitchells Plain verbaal en fisies aanrand. Benedicta van Minnen van die party sê die lid moet gedissiplineer of strafregtelik vervolg word indien die bewerings bevestig word. Van Minnen het bygevoeg dat veiligheidsmagte inwoners moet beskerm en die gemeenskap teen bendegeweld en georganiseerde misdaad moet beskerm, en nie burgerlikes aanval nie:
# Die dodetal in verlede week se kitsvloedramp in die Nepal-Tibet-grensgebied staan nou op 955, met sowat vierduisend-471 mense wat steeds vermis word. Onder die vermistes is honderde werkers in hidroprojektonnels, ondergrondse gange wat die beweging van water van hidroprojekte vergemaklik. Nepal se eerste minister, Balendra Shah, het erken dat die land nie ten volle voorbereid was op ‘n ramp van hierdie skaal nie, wat die dodelikste is sedert die aardbewing in 2015.
# Sokker: Lionel Messi van Argentinië het uit internasionale sokker getree en ‘n rekord-nalatenskap van 125 doele in 207 wedstryde agtergelaat. Die 39-jarige het in ses Wêreldbeker-toernooie gespeel, die toernooi in Katar in 2022 gewen, en Argentinië vanjaar na die eindstryd gelei, maar teen Spanje verloor. Messi, wat Argentinië se voorste doelskieter van alle tye en speler met die meeste wedstryde is, sê hy het alles vir sy nasionale span gegee, maar het nou niks meer om te gee nie. Die agtmalige Ballon d’Or-wenner sê sy pa se afsterwe het hom verder oortuig om uit te tree.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-707-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-449-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….