Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het gister tydens ‘n boodskap aan die nasie belowe daar sal opgetree word teen onwettige immigrasie te midde van toenemende spanning. Van die maatreëls sluit in die verskuiwing van ontvangs-sentrums en die stigting van spesiale howe.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei ook met Ramaphosa. Die webblad berig die president sê Suid-Afrikaners moet nie hulself laat beïnvloed om teen buitelanders te draai nie en eerder die gees van ubuntu uitleef. Ramaphosa het ‘n omvattende plan op alle regeringsvlakke aangekondig.
En tweedens skryf die blad die parlementêre staande komitee oor Verdediging sê een van die weermag se begrotingsprobleme is geleë daarin dat 70-persent van die begroting aan salarisse bestee word.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika se politieke partye het skerp teenstrydige reaksies gelewer op Ramaphosa se toespraak oor onwettige immigrasie. Dit lê diep verdeeldheid bloot oor hoe die land migrasie, grensbeveiliging, werkloosheid en toenemende spanning met betrekking tot buitelandse burgers moet aanpak.
# Sowetan:
Berig bejaardes wat SASSA-toelaes ontvang word bedrieg deur persone wat hul voorhou as amptenare en in ruil vir die bejaarde se identiteitsnommer kos en begrafnisversekering belowe. Daar word dan onwettige aftrekkings op die toelaes gedoen.
# En The Citizen:
Skryf die Lesedi-munisipaliteit het sy begroting vir die 2026/27-boekjaar aanvaar ten spyte van ‘n Hooggeregshofbevel teen die eiendomswaardasielys van die munispaliteit.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Ramaphosa.
En tweedens word berig die 52-jarige Wayne Delport en sy 51-jarige vrou Deborah en hul eenjarige kleinkind, Jodi Jumat, is dood in ‘n motorongeluk nadat Wayne vermoedelik ‘n hartaanval agter die stuur gekry het. Die vierjarige Nathan Jumat het die ongeluk oorleef.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens ook oor Ramaphosa se toespraak. Die president sê geen burgerlike is gemagtig om navraag te doen oor ‘n persoon se nasionaliteit nie.
En tweedens skryf die koerant die plaaslike regsfirma, Greyvensteins, se appèl lewer skynbaar resultate op. Die firma is vroeër skuldig bevind aan wangedrag.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ondersoek word ingestel na ‘n bekende grondbaron se skuldlas.
En berig oor 68 honde wat uit ‘n huis in Durban gered is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Finansies het dele van ’n riglyn wat vereis dat staatsinstellings elk 65 internskapposisies moet skep, gewysig. Volgens die ministerie moet vorige riglyne geïgnoreer word.
Dan skryf die koerant die Stad Windhoek maan inwoners om nie geld vir kinders te gee wat op straat geld bedel nie.
En laastens word berig wat begin het as ’n eenvoudige idee geïnspireer deur die gewilde 30 Seconds-bordspeletjie, het ’n innoverende hulpmiddel geword om Khoekhoegowab te bewaar, die kultuur te vier en boonop mense lag-lag te leer.