Nuus 06:00
BULLETIN 8 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê onwettige migrasie hou ‘n risiko in vir Suid-Afrika
# Donald Trump sê hy sal nie Iran se bates ontvries voordat ‘n vredesooreenkoms bereik is nie
# En rugby: Die Blitsbok-sterspeler, Tristan Leyds, is gekroon as Sewesspeler van die Jaar
# President Cyril Ramaphosa sê onwettige migrasie, indien dit nie beheer word nie, hou ‘n risiko in vir Suid-Afrika se veiligheid, bestendigheid en ekonomiese vooruitgang. Hy het gister die nasie toegespreek oor die regering se benadering tot onwettige migrasie en die onlangse toename in protesoptogte teen buitelandse burgers. Ramaphosa sê die regering erken die uitdagings wat burgers in die gesig staar, insluitend hoë vlakke van werkloosheid, armoede en onvoldoende toegang tot geleenthede. Hy sê frustrasie kan maklik gerig word op diegene wat as mededingers vir werk en hulpbronne beskou word:
Ramaphosa het ook gesê ook daar is geen ruimte vir xenofobie, rassisme, seksisme, Afrofobie of enige ander vorme van onverdraagsaamheid in Suid-Afrika nie. Hy het beklemtoon dat onwettige optrede, geweld, intimidasie, xenofobie en die verspreiding van waninligting geen plek in die land het nie. Ramaphosa het kommer uitgespreek dat teen-buitelander-sentiment soms gepaard gaan met stam- en etniese beledigings, of aanvalle op ander Suid-Afrikaners:
# Die uitvoerende hoof van Everest Wealth, Thys van Zyl, waarsku swak infrastruktuur en logistieke knelpunte dra regstreeks by tot hoër voedselpryse in die land. Hy sê die Wêreldbank het onlangs gewaarsku Suid-Afrika se tyd om sy infrastruktuurhervormings te vestig is beperk, as die land ekonomiese groei wil versnel en sy mededingendheid wil herstel. Van Zyl sê Suid-Afrika se logistieke koste as ‘n persentasie van die bruto binnelandse produk word tans geraam op tussen 11- en 12-persent, aansienlik hoër as in baie vergelykbare ontluikende markte.
# Gautengse polisiebestuur het kennis geneem van ‘n video wat wyd gedeel word op sosiale media, veral op Facebook, waarin ‘n polisiebeampte in uniform geld aan ‘n lid van die publiek terugbetaal ná ‘n beweerde omkoopvoorval. Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê die polisiebeampte is geïdentifiseer en onmiddellike tugstappe is ingestel. Sy sê ‘n interne ondersoek is ook aan die gang om vas te stel wat die volle omstandighede rondom die voorval is:
# President Donald Trump sê hy sal nie Iranse bates ontvries of enige sanksies ophef voordat ‘n vredesooreenkoms bereik is nie. Gister was dit 100 dae sedert die VSA en Israel ‘n gekoördineerde militêre veldtog teen Iran begin het. In ‘n uitgebreide onderhoud op NBC het Trump gesê hy beplan nie om die ongeveer 50-duisend troepe wat by die oorlog betrokke is, te onttrek totdat die konflik verby is nie. Hy het ook gesê Amerikaanse magte sal op Iran se hoogs verrykte uraan beslag lê en dit vernietig. Dit word glo uiters diep ondergronds gestoor.
# Rugby: Die Blitsbokke se sterspeler, Tristan Leyds, het ‘n indrukwekkende seisoen afgesluit deur die Wêreldrugby-sewesspeler van die Jaar-toekenning te wen. Hy het die seisoen 124 punte, 16 drieë en 22 doelskoppe in nege toernooie aangeteken, wat die tweede hoogste in die groep was. Leyds is die vierde Suid-Afrikaner wat die gesogte toekenning wen na Cecil Afrika, Werner Kok en Seabelo Senatla. Hy en sy spanmaat Shilton van Wyk, is met 160 punte en 32 drieë, as Droomspan van die Jaar aangewys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-87-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-323-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….