Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa is van plan om diplomatieke gesante regoor Afrika te stuur om op die migrante-kwessie te fokus. Die regering soek streeks- en internasionale samewerking oor migrasie en die hantering van grensdruk.
# Mail & Guardian:
Skryf ook oor die nuwe Immigrasie Diplomasie-inisiatief wat Ramaphosa in Afrika wil vestig.
En tweedens het die koerant ‘n spesiale verslag: “Suid-Afrikaners hard getref deur die stygende lewenskoste”.
# Die Papier:
Berig eerstens oor adjudant-offisier Karl Sander wat die week die land aangegryp het met sy getuienis voor die Madlanga-kommissie. Sy eerlikheid en openhartige benadering het gelei tot ‘n fondsinsameling wat reeds op bykans 500-duisend-rand staan.
En tweedens skryf die koerant oor die dilemma wat ontstaan het met die ineenstorting van die polisie se topstruktuur en die vraag wat ontstaan: Wie ondersoek nou eintlik wie?
# En die Netwerk24-webblad:
Skryf die bevelvoerder van die Valke se Ondersoekeenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad in Durban, kolonel Gavin Jacob, het voor die Madlanga-kommissie erken die beslaglegging op 514-kilogram kokaïen het gepaard gegaan met foute. Die bestaande prosedure is geïgnoreer.
En tweedens word berig die stormskade in die Wes-Kaap word op byna 20-miljard-rand beraam.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Build One South Africa het twee nuwe kandidate vir die komende plaaslikeregeringsverkiesing bekendgestel en die skuif as ‘n belangrike mylpaal beskryf. Die party het die kleinseun van die struggle-ikone Walter en Albertina Sisulu, Ziyeka Sisulu, en ‘n agterkleinkind van oudpresident Nelson Mandela, Thembela Mandela, as plaaslikeregeringskandidate voorgestel.
# En Sowetan:
Berig ook oor Jacob se erkenning voor die Madlanga-kommissie dat die Valke foute gemaak het met die hantering van die reuse-dwelmvonds.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die sogenaamde Klapmus-bende wat ‘n skrikbewind voer in die buitewyke van die Paarl en Stellenbosch. Drie gesinne is in agt dae vasgebind en beroof.
En tweedens skryf die koerant die hersieningsraad het die parool wat aan die Griekwastad-moordenaar toegestaan is, teruggetrek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar heers ernstige kommer oor ‘n gewelddadige aanval op die DA-LP Baxolile Nodada en sy vriend op Gqeberha se strandfront. Die kwessie van veiligheid in Nelson Mandelabaai, veral ten opsigte van toerisme, is die week in die Parlement geopper.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die probleem van onderwysers in KwaZulu-Natal wat nie opdaag vir werk nie en so leerders in die steek laat.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibië Lughawensmaatskappy het ’n kontrakteur, aan wie ’n tender van miljoene vir lughawetekens toegeken is, by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië aangemeld.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Gesondheid sê ten spyte van aangepaste tariewe is openbare hospitaaldienste steeds sowat 30-persent meer bekostigbaar as private gesondheidsorg.