Nuus 06:00
BULLETIN 5 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa magtig die Spesiale Ondersoekeenheid om die sekuriteitsbedryf en WVF te ondersoek
# Suid-Afrika se elektrisiteitsopwekking daal met nege-persent in April
# En rugby: Die wedstrydbeamptes vir Julie se Nasieskampioenskap is bevestig
# President Cyril Ramaphosa het ‘n proklamasie onderteken wat die Spesiale Ondersoekeenheid magtig om bewerings van wanadministrasie en -gedrag te ondersoek, in die opleidingskontrakte wat deur die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekuriteitsbedryf en die Werkloosheidsversekeringsfonds aangebied word. Die ondersoeke sal fokus op opleidingsprogramme vir meer as sewe-duisend leerders regoor die land, insluitend opleiding vir verkiesingswaarnemers en PSIRA-sekuriteitsopleidingskursusse. Die SOE sal ondersoek of betalings wat ingevolge die kontrakte gemaak is, regverdig, mededingend, deursigtig, billik en koste-doeltreffend was. Ondersoekers sal ook bewerings van onwettige gedrag ondersoek.
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitsproduksie het in April met nege-persent gedaal, terwyl verbruik met vyf-persent gedaal het. Op ‘n maandelikse basis het opwekking met 1,7-persent gedaal, wat die afwaartse neiging van die afgelope maande voortsit. Elektrisiteitsverbruik het ook met 1,3-persent gedaal vanaf Maart, hoewel dit ‘n effense toename oor die afgelope drie maande getoon het. Tsholofelo Ditinti van Statistiek SA sê die syfers weerspieël voortgesette druk op beide vraag en aanbod in die kragsektor:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die Nulane-korrupsiesaak weer by die Bloemfonteinse Landdroshof in die Vrystaat registreer. Die saak hou verband met die beweerde onreëlmatige toekenning van ‘n kontrak van byna 25-miljoen-rand vir die provinsiale Landboudepartement aan die Gupta-gekoppelde Nulane Investments. Die woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Henry Mamothame, sê die saak sal in September terug wees in die hof:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte sal vandag soos beplan heropen na onlangse ontwrigting weens oorstromings. Slegs skole wat toestemming gekry het weens paaie wat toe is of onveilige toegang het sal gesluit bly, en by daardie skole sal die ouers direk in kennis gestel word. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê planne sal ingestel word om te verseker dat verlore onderwystyd ingehaal word:
# Die Iran-gesteunde militante groep, Hisbolla, het die skietstilstandooreenkoms tussen die Libanese regering en Israel verwerp. Die ooreenkoms vereis ‘n volledige staking van Hisbolla-aanvalle en die groep se onttrekking uit Suid-Libanon. Hisbolla-leier, Naim Qassem, sê die skietstilstand is ‘n padkaart om ‘n deel van die Libanese bevolking uit te wis en die res te verslaaf. Hy het die Libanese regering versoek om regstreekse onderhandelinge met Israel te staak en dit as nutteloos en vernederend bestempel. Meer as drie-duisend mense is sedert die begin van die oorlog in Libanon dood.
# Rugby: Die Nieu-Seelandse skeidsregter, James Dolman, sal die Springbokke se openingswedstryd in die eerste Nasieskampioenskap teen Engeland op Ellispark op 4 Julie beheer. Sestien skeidsregters sal 18 wedstryde hanteer wat volgende maand in die Suidelike Halfrond gespeel sal word. Frankryk se Pierre Brousset sal die fluitjie blaas vir Suid-Afrika teen Skotland in Pretoria, met die Ier Andrew Brace wat toesig sal hou oor die Bok-Wallis-botsing in Durban. Die tweede been van die kampioenskap sal in November in die Noordelike Halfrond gespeel word, met ‘n eindronde-naweek in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-475-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….