Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Ampsklagkomitee wat president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-kwessie ondersoek, het die benoeming van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier herroep. Die koerant skryf die skuif volg op kommer oor sy vorige regsraad aan die ANC en sy rol as Ramaphosa se verteenwoordiger op die Regterlike Dienskommissie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die OVK het die ANC se bewerings verwerp dat ‘n fout met sy webwerf die registrasie van benoemde kandidate verhoed het. Die kommissie gaan dus nie toelaat dat sekere kiesafdelings in die Oos-Kaap wat die spertyd misgeloop het, hul benoemings registreer nie.
En tweedens skryf die webblad Brittanje en Europa het vanjaar hul warmste somer in menseheugenis aangeteken.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het bewerings ontken dat daar ‘n “uniform gereed” was as deel van ‘n beweerde plan om hom te help om uit aanhouding te ontsnap. Hy sê die ondersoekbeampte se bewerings is ongegrond. Mogotsi het gister in die Johannesburgse Landdroshof verskyn, waar hy sy vierde aansoek om borgtog ingedien het.
# Sowetan:
Berig oor die aanstelling van Pitso Mosimane as hoofafrigter van Bafana Bafana. Die koerant skryf hy keer na 14 jaar terug met baie ervaring en prestasies op sy kerfstok.
# En The Citizen:
Skryf die Blairgowrie-swembad in Johannesburg wat deur die plaaslike gemeenskapsvereniging herstel is, het nie gister op Lentedag heropen nie. Die stadsraad het die opening tot 1 Oktober uitgestel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die herroeping van die benoeming van advokaat Madonsela as getuienisleier van die Ampsklagkomitee.
En skryf verder oor die opspraakwekkende oorvlug van Airlink-vliegtuie voor die tweede toets tussen die Bokke en All Blacks in Kaapstad.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig plattelandse paaie in die Oos-Kaap is in so ‘n swak toestand dat taxi’s wat leerdervervoer moet verskaf, weier om die roetes te diens.
En tweedens skryf die koerant die leier van die Abantu Integrity Movement, Mkhuseli Jack, sê hy eis dat die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, haar aantygings dat hy verbind kan word met politieke moorde terugtrek. Indien nie, gaan hy regstappe doen.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit het ‘n gekoördineerde optrede teen onwettige immigrante in Pietermaritzburg uitgevoer.
En tweedens word berig die sterswemmer Tatjana Smith het ‘n aanmaningsbrief aan Swem Suid-Afrika gestuur waarin sy eis dat die rente op prysgeld wat na bewering vir meer as ‘n jaar teruggehou is, betaal word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens die Omaruru Boerevereniging het meer as 10-duisend-hektaar weiding en natuurlike veld in die Omaruru-distrik afgebrand tydens die brande wat Maandagaand onder beheer gebring is.
En tweedens skryf die koerant meer as 14-duisend Namibiërs het volgens die Bevolkings- en Behuisingsensus van 2023 ná die ouderdom van 60 steeds gewerk.