Nuus 06:00
BULLETIN 2 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verwerp die ANC se bewerings oor ‘n tegniese fout op sy webwerf
# Shoprite toon ’n 12,2-persent-toename in sy wesensverdienste
# En Nepal hoop sommige van die duisende vermistes kan steeds gered word
# Die Verkiesingskommissie sê hy het die ANC nie ‘n bykomende geleentheid gegee ná die 17:00-sperdatum van Vrydag verlede week om sy kandidaatlyste in te dien nie. Die party het versuim om sy lyste vir verskeie Oos-Kaapse munisipaliteite in te dien weens ‘tegniese probleme’ met die kommissie se kandidaatvasleggingstelsel. Die ANC beweer hy het die kommissie betrek om te verseker dat al sy kandidaatlyste vir die plaaslikeregeringsverkiesing vasgelê word. Die kommissie sê die stelsel was vir twee weke oop, wat alle partye genoeg tyd gegee het om hul lyste in te dien.
# Statistiek Suid-Afrika sê 85-persent van mense 16 jaar en ouer het verslawing, dwelm- of alkoholmisbruik as die hoofoorsaak van geweld teenoor vroue en kinders geïdentifiseer. Die woordvoerder, Boitumelo Mooketsi sê die jongste verslag oor slagoffers van misdaad uit die verslag oor regering, openbare veiligheid en geregtigheid dui daarop dat meer as 80-persent van vroue en mans glo huweliksmaats of intieme lewensmaats is verantwoordelik vir die meeste geslagsgeweld:
# Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar, Shoprite, het ‘n toename van 12,2-persent in jaarlikse wesensverdienste gerapporteer, gedryf deur bestendige verkoopsgroei en uitbreiding in sy kern kruideniersware-onderneming. Handelswareverkope uit voortgesette bedrywighede het met 7,2-persent gestyg tot 270,8-miljard-rand in die 52 weke tot 28 Junie, vanaf 252,7-miljard-rand op ‘n jaar grondslag. Shoprite sê sy fokus is op bekostigbare gesteunde groei, terwyl sy Suid-Afrikaanse supermarkbedrywighede en digitale besighede steeds sterk presteer. Die uitvoerende hoof van Shoprite, Pieter Engelbrecht, sê die groep se prestasie weerspieël sy vermoë om waarde aan kliënte te lewer terwyl hy voortgaan om sy ondernemings te laat groei.
# ActionSA het die stadsbestuurder van eThekwini, Musa Mbhele, by die Nasionale Vervolgingsgesag aangegee oor beweerde korrupsie wat verband hou met die Phoenix-behuisingsprojek. Dit volg nadat die Spesiale Ondersoekeenheid bewyse van korrupsie gevind het en aanbeveel het verskeie maatskappye en individue moet op die swartlys geplaas word. Alan Beesley van ActionSA sê sommige van die maatskappye word steeds deur die munisipaliteit gebruik ten spyte van die bevindinge. Beesley het ook kommer uitgespreek oor Mbhele se beweerde versuim om op grond van die bevindinge op te tree:
# Nepal se minister van Buitelandse Sake, Shisir Khanal, sê hy hoop steeds die byna vierduisend mense wat vermis word na verlede week se dodelike kitsvloede, kan nog gered word. Onder die vermistes is meer as 600 werkers wat vermoedelik vasgekeer is in ‘n groot netwerk van moddergevulde tonnels by hidrokragaanlegte langs die Trishuli-rivier. Die dodetal ná die verwoestende Himalaja-gletservloed het tot meer as duisend gestyg. Khanal sê reddingsoperasies duur voort met die ondersteuning van die internasionale gemeenskap. Hy sê wonderwerke gebeur wel:
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n oorwinning van 43 lopies oor Zimbabwe in hul Namibië T20-driehoekreeks behaal om hul plek in die eindstryd in Windhoek so te sê te verseker. Lhuan-dré Pretorius het 94 lopies van 51 balle aangeteken en ‘n openingsvennootskap van 68 met Jordan Hermann gedeel, voor ‘n tweede paaltjie-vennootskap van 86 met Dewald Brevis, met die Proteas wat 185 vir sewe aangeteken het. Zimbabwe is uitgeboul vir 142, met Duan Jansen en Bjorn Fortuin wat sewe paaltjies gedeel het. Suid-Afrika speel Vrydag teen Namibië in hul laaste rondomtalie-wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-188-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 98-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….