Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die JSE tuimel terwyl selfs goud begin terugsak. Die enigste aandeel wat goed doen, te midde van die stygende olieprys en swak rand, is Sasol.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf nie eens president Cyril Ramaphosa het geweet van minister Senzo Mchunu se ontbinding van die polisie se taakspan vir politieke moorde nie.
# Die Papier op Vrydae:
Berig die Nasionale Vervolgingsgesag en Spesiale Ondersoekeenheid het steeds nie gemaklike toegang tot belangrike dokumente in besit van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling nie. Dit belemmer die vervolging van staatskapers.
Dan skryf die koerant oor die arrestasie van Peet en Mel Viljoen in die VSA en die reuse-reaksie wat dit in Suid-Afrika ontlok het. Volgens ‘n kenner kan die egpaar hoop hulle word aan Suid-Afrika uitgelewer.
En laastens bespiegel die koerant oor die moontlikheid van ‘n brandstoftekort in Suid-Afrika.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Ramaphosa sê transformasie moet nie slegs ‘n slagspreuk in Suid-Afrika wees nie. Hy sê opofferings moet gemaak word om eienaarskap uit te brei.
En tweedens skryf die webblad die 50-jarige Liani van der Berg is ernstig aangerand tydens ‘n plaasaanval buite Coligny in Noordwes. Sy is aangeval toe sy van haar huis na perdestalle op pad was.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens oor die redes vir die ANC se weiering om die nuwe VSA-ambassadeur te ontmoet.
Dan word berig die leier van die All Citizens Party, Senathi Fisha het haar planne vir misdaadbekamping bekend gemaak. Dit berus hoofsaaklik op strenger beheer oor onwettige immigrante.
En laastens skryf die koerant Emfuleni sê sy oortydrekening van 700-miljoen-rand is nie buitensporig nie.
# Sowetan:
Berig oor ‘n pensioenaris van Vosloorus se ouderdomstoelaag-nagmerrie en Sassa se oënskynlike onwilligheid om hom te help. ‘n Persoon met dieselfde identiteitsnommer in Mamelodi trek sy pensioen.
# En The Citizen:
Skryf oor die 24-jarige Jonathan Gerds wat nou pleit dat sy hand afgesit moet word nadat ‘n dokter na bewering vir hom ‘n verkeerde inspuiting gegee het. Dit het tot infeksie gelei wat nie opklaar nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig dit wil voorkom of die regering se uitsprake oor die beskikbaarheid van brandstof nie in lyn is met wat op die grond gebeur nie. Vulstasie-eienaars in die Vrystaat en Noord-Kaap sê hulle sukkel om brandstof in die hande te kry. Die koerant skryf ook oor die negatiewe uitwerking van die brandstofprys op die JSE en die verwagte hoë pryse in April.
En tweedens is daar nuus oor pasgetroudes en hul familielede wat by ‘n gastehuis buite Wolseley aangeval en beroof is. Dis dieselfde gastehuis waar ‘n soortgelyke voorval in Februarie aangemeld is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die jongste kragprobleme in Nelson Mandelabaai kan tot 21 dae neem om te herstel.
En skryf tweedens die rantsoenering van brandstof word ‘n werklikheid in die lig van die Midde-Oosterse krisis.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf kommer oor die wêrelwye brandstofkrisis neem toe.
En berig tweedens die ANC in KwaZulu-Natal het ‘n aanbod van die MK-party van die hand gewys.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering het Desember 2026 as teikendatum vasgestel vir die eerste vlug van Namibia Air, die land se beplande nuwe nasionale lugredery.
En tweedens skryf die koerant die laaste van die veilings namens die Namibië Inkomste-agentskap van goedere van Order With Me waarop beslag gelê is, vind vandag plaas.