Nuus 06:00
BULLETIN 20 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit beskuldig die ANC dat hulle bande met die VSA in gevaar stel vir politieke gewin
# Paul Mashatile sê munisipaliteite ontwikkel water- en sanitasie-omkeerstrategieë
# En die staatsdiensvakbond veroordeel Dawie Roodt se opmerkings
# Die vakbond Solidariteit sê die regering waag Suid-Afrika se verhouding met die VSA vir politieke gewin. Die vakbond het die behandeling van die Amerikaanse ambassadeur Leo Brent Bozell en planne vir ‘n anti-VSA-optog gekritiseer, en waarsku dit kan soveel as 500-duisend werksgeleenthede bedreig en handel benadeel. Dirk Hermann van Solidariteit kritiseer ook die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, oor opmerkings wat spanning kan vererger, en waarsku gewone Suid-Afrikaners kan dalk die prys daarvoor moet betaal.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê stedelike munisipaliteite ontwikkel nou water- en sanitasie-omkeerstrategieë as deel van die Hervorming van Metropolitaanse Handelsdienste-program deur die Nasionale Tesourie. Hy het gister vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Die waterkrisiskomitee, onder voorsitterskap van president Cyril Ramaphosa, het Woensdag sy eerste vergadering gehou om sy aksieplan te finaliseer. Mashatile het munisipaliteite aangespoor om waterinkomste vir infrastruktuuropgraderings te reserveer:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kritiek uitgespreek oor opmerkings deur ekonoom Dawie Roodt wat staatsamptenare as parasiete en staatskapers beskryf. Die vakbond sê die opmerkings is aanstootlik en ignoreer staatswerkers se moeilike omstandighede. Die vereniging verwerp ook bewerings dat staatsamptenare oorbetaal word en beklemtoon salarisse word deur behoorlike onderhandelinge bepaal. Claude Naiker van die vereniging waarsku daarteen om staatsamptenare te blameer vir breër ekonomiese uitdagings, aangesien hulle noodsaaklik is vir dienslewering.
# Die Madlanga-kommissie het WhatsApp-boodskappe tussen die SAPD-beampte, Fannie Nkosi en die Tshwane se hoof- finansiële beampte, Gareth Mnisi, bevraagteken. Die getuienisleier, Matthew Chaskalson, het aan die kommissie gesê Mnisi het ‘n brief deur die Valke gedeel waarin inligting oor sekere ondersoeke aangevra is en waarin Nkosi gevra is vir leiding oor hoe om te reageer. Die ondersoeke het tenders by die Tshwane Metropolisie ingesluit. Nkosi sê hy het slegs met een faktuur ingegryp:
# ‘n Senior Russiese amptenaar het ‘n beroep gedoen vir ‘n veiligheidsone rondom Iran se Bushehr-kernkragsentrale om ‘n ramp te voorkom. Dit volg nadat ‘n projektiel twee dae gelede binne ‘n paar honderd meter van die reaktor, wat deur Rusland gebou is, getref het. Die hoof van die Rosatom-staatskernkorporasie, Alexei Likhachev, sê daar is 72 ton splytbare materiaal en 210 ton gebruikte kernbrandstof op die terrein. Hy waarsku as so ‘n voorval sou plaasvind, dit die hele streek en ‘n groot aantal lande in die Midde-Ooste sal raak.
# Gholf: Die tuisspan, die Southern Guards GC, het ‘n droombegin gehad in die eerste ronde van LIV Gholf Suid-Afrika by Steyn City in Johannesburg. Die span, bestaande uit kaptein Louis Oosthuizen, Branden Grace, Charl Schwartzel en Dean Burmester, is boaan die punteleer met 18 onder baansyfer. Hulle is een hou voor Smash GC en twee houe voor Crushers GC. Burmester sê die eerste ronde was die beste dag wat hy nog op ‘n gholfbaan deurgebring het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-635-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….