Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Mededingingskommissie is in die Parlement beskuldig dat hy nie regverdig optree in sy besluitnemingsproses nie. Die kommissie het sy besluit verdedig oor die Maziv/Vodacom-samesmelting ter waarde van 13-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die EFF-leier, Julius Malema en ActionSA is in getuienis voor die Madlanga-kommissie betrek by die verskaffng van ‘n tender vir veiligheidsdienste vir die Tshwane-metro. Hulle is glo deur die finansiële hoof van die metro, Gareth Mnisi by die proses betrek.
En tweedens skryf die webblad die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die nuwe nasionale waterkrisiskomitee sal eerste aandag skenk aan Johannesburg en ander munisipaliteite waar die grootste probleme voorkom.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die MK-party het oudregter John Hlophe heraangestel as adjunkpresident en parlementêre leier.
En tweedens word berig Gauteng gaan gebuk onder ‘n tekort aan noodsaaklike mediese kenners.
# Sowetan:
Berig 36 skole in Gauteng se krag is afgesny oor agterstallige rekenings en in Ekurhuleni het nog 135 skole aanmanings ontvang. Equal Education sê skole kan nie meer bybly met kostes nie as gevolg van die huidige befondsingsmodel.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n verslag van die Ouditeur-generaal word 114-miljoen-rand aan die salarisse van spookonderwysers in Noordwes betaal.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar is talle vrae oor die wettigheid van die verandering van die pleknaam Graaff-Reinet na Robert Sobukwe. Die koerant skryf ‘n lys met 38-duisend besware is geïgnoreer en die afkondiging van die proses was ook gebrekkig.
En tweedens skryf die koerant oor die afsterwe van die 66-jarige Anton Bougas, die vader van die Kleuterzone-stigter, Anthonie Bougas.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is vrae oor die Weermag wat nog nie in die noordelike dele van Nelson Mandelabaai ontplooi is nie.
En tweedens skryf die koerant oor die negatiewe uitwerking van wisselvallige kragvoorsiening op die Oos-Kaapse motorbedryf.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het sy steun toegesê aan die polisiehoof in die provinsie, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi.
En tweedens word berig ‘n waarskuwing is aan verbruikers uitgereik om op te let na die vervaldatums op voedsel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n ondersoek in die lugvaartbedryf toon ’n toenemende tekort aan vlieëniers en instrukteurs wat opleiding en bedrywighede ontwrig.
En tweedens skryf die koerant die Rössmund-gholfbaan en -klub naby Swakopmund is op ’n geregtelike veiling vir 41-miljoen-rand verkoop ná ’n mislukte hofpoging om die veiling te stop.