Nuus 06:00
BULLETIN 19 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom ‘n verdere afname in verbruikersinflasie
# Eskom lê ‘n nuwe loonaanbod van 6,5-persent voor
# En Iran se Intelligensieminister sterf in ‘n Israelse aanval
# Die regering verwelkom die verdere afname in verbruikersinflasie, wat van 3,5-persent in Januarie, tot drie-persent in Februarie gedaal het. Die verbruikersprysindeks vir die maand het met 0,4-persent gestyg. Die adjunk-regeringswoordvoerder William Baloyi sê laer brandstofpryse was ‘n sleutelfaktor, terwyl voedselinflasie ook vir die eerste keer in vier maande afgeneem het, wat ‘n mate van verligting vir huishoudings tot gevolg gehad het. Baloyi het bygevoeg die regering sal voortgaan om pryse te monitor en ekonomiese bestendigheid te ondersteun:
# Die kommissaris van Polisie van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê hy het ‘n brief van agt bladsye ontvang van ‘n voormalige gevangene, Jermaine Prim, wat ‘n sel met sakeman, Vusimuzi Matlala, gedeel het, wat bewerings teen senior amptenare bevat. Mkhwanazi sê die meeste bewerings is gebaseer op gesprekke met Matlala en is nog nie bevestig nie. Hy het die inligting met ondersoekbeamptes gedeel en gewaarsku verdere ondersoek word vereis, te midde van kommer oor moontlike wangedrag by supermaksimum korrektiewe fasiliteite:
# Eskom het ‘n nuwe loonaanbod van 6,5-persent in die vierde ronde van onderhandelinge met vakbonde voorgelê, nadat ‘n aanbod van ‘n ses persent-verhoging verlede maand verwerp is. Die driejaarooreenkoms sluit in ‘n basiese salarisverhoging van 6,5-persent in Julie, nog 6,5-persent volgende jaar en ses-persent in 2028. Die Nasionale Unie van Mynwerkers eis egter ‘n loonverhoging van 12-persent. Die huidige loonooreenkoms van sewe-persent wat in 2023 bereik is, sal in Junie verval.
# Die DA in Tshwane dring aan op die verwydering van die adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, na bewerings wat verband hou met ‘n watertenkkontrak. Die party het burgemeester Nasiphi Moya gekritiseer omdat sy nie opgetree het nie, ten spyte van berigte dat senior amptenare by die ooreenkoms baatgevind het. Cilliers Brink van die DA eis Modise se ontslag, ‘n spesiale raadsvergadering en groter deursigtigheid oor ‘n voortgesette ondersoek na tenkerbesteding:
# Iran het bevestig dat sy minister van Intelligensie, Esmail Khatib, in ‘n Israelse aanval in Teheran dood is. Dit volg op die dood van Iran se Veiligheidshoof, Ali Larijani. Khatib is in 2022 deur die Amerikaanse Tesourie uitgewys vir sy deelname aan kuber-aktiwiteite teen Amerika en sy bondgenote. Die Israelse minister van Verdediging, Israel Katz, sê hy het die weermag gemagtig om enige senior Iranse amptenaar te neutraliseer sodra ‘n operasionele en intelligensiegeleentheid ontstaan, sonder vooraf goedkeuring.
# Gholf: Die kaptein van Suid-Afrika se Southern Guards GC-span, Louis Oosthuizen, sê om ‘n LIV-gholftoernooi na Suid-Afrika te bring, is belangriker as om te wen. Die eerste LIV-toernooi in Afrika begin vandag by Steyn City in Johannesburg. Dertien spanne, bestaande uit vier spelers elk, asook vyf promotorskeuses, sal meeding om die eerste prys van 66-miljoen-rand, terwyl die wenspan nog ‘n verdere 50-miljoen-rand sal verdien. Oosthuizen hoop hy en spanmaats Charl Schwartzel, Branden Grace en Dean Burmester sal ‘n wonderlike tyd geniet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-98-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-832-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….