Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is die eerste van baie koerante wat oor die Iran-oorlog berig. Die koerant skryf president Donald Trump sê hy is gewillig om gesprekke met Iran se nuwe leierskap te voer. Die land word tans deur ‘n raad regeer totdat die opperleier se opvolger aangestel word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig verskeie Suid-Afrikaners in Arabiese lande het die afgelope naweek by geleentheid na bomskuilings gevlug om Iran se weerwraakaanvalle te oorkom. Hulle sê hoewel dit vreesaanjaend was, was niemand in Dubai se lewens in gevaar nie.
Tweedens skryf die koerant oor die 61-jarige pianis, danser en TV-ster, Ian von Memerty, se selfdood in ‘n Kaapse hotel.
En laastens word berig een persoon is dood en nog vyf word vermis nadat ‘n sleepboot die naweek by Mosselbaai gesink het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf onlangse bespiegeling oor die miljardêr Patrice Motsepe se moontlike kandidatuur vir ANC-presidentskap het toegeneem na die bekendstelling van ‘n veldtogwebwerf. Ten spyte van sy vorige ontkennings van enige politieke ambisies, het die webwerf pm27.org.za opnuut vrae laat ontstaan.
En tweedens word berig ‘n ma dagvaar die Lehurutshe-hospitaal in Noordwes vir 500-duisend-rand nadat hulle na bewering die verkeerde baba tydens die Covid-19-pandemie begrawe het.
# En Sowetan:
Berig daar is nagenoeg ‘n 100 gevangenes wat uit polisieselle ontsnap het en nie opgespoor kan word nie. Die vernaamste redes vir die ontsnappings is swak infrastruktuur en korrupte polisiebeamptes. Daar is tans sowat 220 beamptes wat ondersoek word nadat hulle na bewering met die ontsnappings gehelp het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die Iranse oorlog. Die koerant skryf president Trump het aan Iran gesê die aanvalle sal voortduur totdat vrede in Iran herstel is.
En tweedens skryf die koerant oor Rovos Rail se ongeluk in Namibië waarin twee persone omgekom het. Nie een van die passasiers is beseer nie en hulle word teruggevlieg Suid-Afrika toe. Die ongeluk het by Naute net buite Keetmanshoop gebeur.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, het teruggekap teen kritiek oor die verhuring van ‘n transformator van 25-miljoen-rand aan Coega Steels sonder die raad se goedkeuring.
En tweedens skryf die koerant natuurbewaringsaktiviste wil ‘n gesprek voer met die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane. Dit volg nadat hy ‘n beroep op hulle gedoen het om nie in die pad van ontwikkeling te staan nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die mense is omgekrap oor die salarisverhogings wat aan die regering toegestaan is.
En berig oor die swart dag wat die Protea-vroue beleef het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig rolspelers in die privaat sektor sê staatsamptenare verdien ‘n gesondheidstelsel wat werk en nie die “Psemas-dobbelspel” waarvolgens staatsamptenare slegs staatshospitale mag gebuik nie. En tweedens skryf die koerant ook oor die Rovos Rail-ongeluk en daar is nuus van Namibiërs wat in die Midde-Ooste woon en werk oor hoe hulle die konflik eerstehands ervaar.