Nuus 06:00
BULLETIN 2 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Iranse president sê wraak vir die VSA-Israel-aanvalle is sy land se reg en plig
# ActionSA eis dat minister Macpherson die koste van sy reis na Brasilië terugbetaal
# En krieket: Suid-Afrika klop Zimbabwe om onoorwonne te bly in die T20 Wêreldbeker
# Die Iranse president Masoud Pezeshkian sê die moord op die opperleier, ajatolla Ali Khamenei, tydens die VSA en Israelse aanvalle in Iran is ‘n oorlogsverklaring teen Moslems. Ander senior amptenare is ook Saterdag in die lugaanvalle dood. Iran het teruggekap deur missiele en hommeltuie na Israel en verskeie Amerikaanse militêre terreine reg oor die Midde-Ooste te lanseer. Ongevalle is aangemeld in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate, Katar se hoofstad Doha, Bahrein en Koeweit. In ‘n televisie-toespraak sê Pezeshkian dit is hul reg om hierdie geskiedkundige misdaad te wreek.
‘n Senior navorser van die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection, Na’eem Jeenah, sê intussen die VSA kan nie vertrou word om sy beloftes na te kom nie, aangesien die Midde-Oosterse konflik toeneem. Jeenah waarsku in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika dat vergelding deur Iran na verwagting in die komende dae sal toeneem weens die voortdurende konflik tussen Amerika, Israel en Iran, wat moontlik ‘n groot deel van Wes-Asië sal betrek. Hy beskryf die situasie as die begin van ‘n langdurige konflik, kritiseer streeksveroordeling van Iran en beklemtoon dat Iran se voortbestaan in die gedrang is en nie die VSA nie:
# ActionSA het die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, versoek om 839-duisend-rand terug te betaal wat bestee is aan ‘n reis na Brasilië, waarheen hy na bewering sy lewensmaat geneem het ondanks regsadvies daarteen. Malebo Kobe van die party sê die jongste berig deur City Press volg nadat die minister reeds 3,2-miljoen-rand aan reiskoste teen Junie 2025 opgehoop het. Sy het die behoefte aan ‘n volledige verduideliking en terugbetaling beklemtoon en die besteding verkwistend en onregverdigbaar genoem:
# Die DA in Gauteng het munisipaliteite gekritiseer wat waterinfrastruktuurfondse na onverwante programme herlei en waarsku dit laat die provinsie se waterkrisis voortduur. Die party het verwys na dekades van verwaarlosing en mislukte ANC-planne, en vra dringende optrede, onder meer die herstel van lekkasies, instandhouding van pompstasies, die vermindering van stelseldruk, afdwing van behoorlike bestuur, aanspreek van groot verliese, en versigtige uitbreiding van die netwerk. DA-woordvoerder Nico de Jager sê om Gauteng se water te bestendig, vereis dissipline, behoorlike hulpbronne en implementering, in plaas van nuwe infrastruktuurbeloftes.
# Krieket: Suid-Afrika het Zimbabwe met vyf paaltjies in hul laaste Super Agt-botsing in die T20-Wêreldbeker in Nieu-Delhi verslaan en bly onoorwonne in die toernooi. Kwena Maphaka en Corbin Bosch het elk twee paaltjies geneem toe die Proteas Zimbabwe tot 153 vir sewe beperk het, ten spyte van kaptein Sikandar Raza se briljante 73 van 34 balle. In antwoord het Dewald Brevis 42 van 18 balle geslaan en die 2024-naaswenners het die wenteiken met 13 balle oor bereik. Suid-Afrika sal Woensdag teen Nieu-Seeland in die halfeindronde in Kolkata te staan kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-338-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-278-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sal na verwagting vanoggend die nasionale bekendstelling van die 30-jarige herdenking van die Grondwet en die begin van Menseregtemaand by die Apartheidsmuseum in Johannesburg lei. Woordvoerder Terrence Manase sê die vieringe sal ‘n herbesinning en herverbintenis wees tot een Grondwet en een nasie; asook om menswaardigheid ‘n werklikheid te maak, Sharpeville-slagoffers te vereer en gelykheid en vryheid te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….