Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die geskorste personeelbestuurder van Ekurhuleni, Linda Gxasheka het aan die Madlanga-kommissie verduidelik dat die tugstappe teen die adjunkhoof van die polisie, Julius Mkhwanazi oor die blouligkontrak vir twee jaar vertraag is omdat die regsfirma nie betaal is vir sy verslag nie.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “ENOCH WALKS THE TIGHT ROPE”. Die koerant skryf die minister van Finansies, Enoch Godongwana se geprojekteerde ekonomiese groeikoers bly onvoldoende om strukturele werkloosheid aan te spreek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig luidens ‘n Amerikaanse kontrakteringsdokument wil die VSA nou vier-duisend-500 Afrikaners per maand na die land neem. Ekstra geboue is by die Amerikaanse ambassade in Pretoria opgerig om die aansoeke te hanteer.
Dan skryf die webblad Dada Morero is steeds burgemeester van Johannesburg nadat ‘n beplande mosie van wantroue nie ingedien is nie.
En laastens word berig die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza gaan ondersoek instel nadat Paul O’Sullivan uit die parlementêre ad hoc-komitee gestap het terwyl sy ondervraging aan die gang was.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die veroordeelde pedofiel, Jeffrey Epstein het volgens inligting wat deur die Amerikaanse regering vrygestel is, noue bande gesmee met magtige figure in Senegal en die Ivoorkus, en ‘n invloed-netwerk reg oor die vasteland gebou. Daar was veral ‘n noue verhouding met Karim Wade, die seun van die voormalige Senegalese president Abdoulaye Wade.
# Sowetan:
Berig oor môre se Soweto-derby tussen Orlando Pirates en Kaizer Chiefs en skryf dis die twee onderskeie afrigters, Abdeslam Ouaddou en Cedric Kaze, wie se koppe eintlik op die blok is.
# En The Citizen:
Skryf die berugte dwelmrehabilitasiesentrum Tetelestai is weer in die soeklig nadat nog pasiënte na vore gekom het omdat hulle onder dwang soontoe geneem is. Die koerant berig dit volg te midde van die ondersoek na ‘n pasiënt, Luke Edwards, se dood wat nog nie afgehandel is nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die burgemeester van Kaapstad Geordin Hill-Lewis het ‘n beloning van 100-duisend-rand uitgeloof vir inligting wat kan lei tot arrestasies vir die moord op ‘n taxibestuurder en ‘n 14-jarige leerder. Die leerder het in die kruisvuur van ‘n taxioorlog beland.
En tweedens skryf die koerant sowat 116 kratte Weskus-kreef is na veiliger water verskuif nadat hulle in Elandsbaai in rooigety vasgevang is. Vyftig kratte dooie kreef moes egter begrawe word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die weldoener van Nelson Mandelabaai wat 500-duisend-rand aan die DBV in Uitenhage geskenk het.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse premier het ‘n belegging van meer as een-miljard-rand in die Stellantis-motorgoep verwelkom.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Zoeloe-koning Misuzulu kaZwelithini dring daarop aan dat die provinsie se naam verander moet word en slegs as KwaZulu bekend staan.
En tweedens vier die koerant vandag fees op sy 180ste bestaansjaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig byna twee derdes van die uitgawes van Namibië se nasionale begroting vir die 2026/27-boekjaar is gemik op onderwys, gesondheid en maatskaplike beskerming.
En tweedens skryf die koerant ’n vrou in aanhouding by die Katutura-polisiestasie moes glo in die openbaar langs die pad haar nood verlig aangesien daar geen geriewe vir vroue beskikbaar was nie.