Nuus 06:00
BULLETIN 27 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee Suid-Afrikaanse rekrute wat gewerf is om in die Rusland-Oekraïne-konflik te veg, is dood
# Die kabinet verwelkom die begroting van 2,67-duisend-miljard-rand
# En die Deense premier roep ‘n blitsverkiesing uit
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het bevestig dat twee Suid-Afrikaanse mans wat gewerf is om in die Rusland-Oekraïne-oorlog te veg, dood is. Dit is nie bekend hoe hulle gesterf het nie. Lamola het beklemtoon dat die twee nie onder die 17 Suid-Afrikaners was wat na bewering deur die MK-party as huursoldate vir die Russiese weermag gewerf is nie. Hy sê die twee was deel van ‘n ander werwingskema wat hulle na Moskou geneem het:
# Die kabinet het die nasionale begroting van 2,67-duisend-miljard-rand verwelkom, aangesien dit die regering se prioriteite ondersteun en belastingverligting aan burgers en besighede bied. Die begroting sluit bykomende toewysings in om misdaadbestryding te versterk. Meer geld word aan verdedigings- en polisiëringsoperasies toegewys om georganiseerde misdaad te bestry. Dit sluit ook aangepaste belastingkategorieë in. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die bestedingsplan ondersteun ekonomiese groei terwyl verantwoordelike finansiële bestuur gehandhaaf word:
# Die Advertensiereguleringsraad het die Suid-Afrikaanse Beroepsweddersvereniging as sy nuutste lid verwelkom, wat selfregulering van dobbeladvertensies versterk. Die stap sal help om bedryfsgedrewe reëls te ontwikkel om verbruikers te beskerm, met ‘n fokus op aanlyn dobbelary. Die konsepkode vir dobbeladvertensies is tot Vrydag oop vir openbare kommentaar. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Sean Coleman, sê hul aansluiting by die raad weerspieël die vereniging se verbintenis tot etiese advertensies en verantwoordelike bedryfstandaarde.
# Die DA sê die oorloop van voormalige ActionSA-raadslid Mandla Nyaqela en ander lede van vyf Soweto-takke weerspieël groeiende steun vir die DA se bestuursbenadering. Nyaqela het frustrasie met ActionSA se outoritêre leierskapstyl en ’n gebrek aan interne demokrasie as redes vir sy vertrek aangevoer. Die burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, sê die nuwe lede glo die party bied die beste kans om dienslewering te verbeter en bestendigheid in die stad te herstel:
# Denemarke se eerste minister, Mette Frederiksen, sê die land sal op 24 Maart ‘n vroeë algemene verkiesing hou. Dit volg terwyl meningspeilings aandui dat haar hantering van president Donald Trump se herhaalde dreigemente om Groenland binne te val, haar gewildheid bevorder het. Frederiksen, ‘n sentrum-linkse Sosiaal-Demokraat wat sedert middel 2019 die amp beklee, het ‘n welvaartsbelasting voorgestel om skole te finansier, en belowe om die toekoms van die gemenebes te verseker en om Europa bymekaar te hou. Sy lei tans die regering met die Liberale Party.
# Rugby: Die Springbok-vleuel van die Haaie, Edwill van der Merwe, sê hulle besef hulle lugspel moet verbeter nadat hulle verlede naweek daarmee teen die Leeus gesukkel het. Die Durban-span het die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd met 34-22 verloor en speel môre teen die Bulle op Loftus. Van der Merwe sê hulle was baie teleurgesteld met die uitslag op Ellispark, maar glo hulle sal in Pretoria verbeter. As hulle ‘n bonuspunt-oorwinning behaal, sal hulle die Suid-Afrikaanse Skild vir ‘n tweede agtereenvolgende seisoen wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-541-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-181-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….