Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Februarie 2026:
Die nuusblaaie word vandag oorheers deur Begroting 2026.
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig opposisiepartye het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se Begroting 2026 wat hy gister ter tafel gelê het verwerp omdat dit nie genoeg groeigeleenthede bevat nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Bied eerstens ‘n volledige skematiese uiteensetting van die begroting. Die weergawe word ook in Die Burger as hoofberig gedra.
Voorts berig die webblad oor die provinsiale rede van die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde. Hy sê die Wes-Kaapse regering sal die howe nader indien die nasionale regering nie die regstelsel hervorm of meer hulpbronne aan die polisie toestaan nie.
En laastens is daar nuus oor die 15-jarige Jude Stewart van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg wat oorlede is kort nadat rabdomiolise by hom gediagnoseer is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Godongwana het ‘n beduidende toewysing van een-miljard-rand aan elk van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aangekondig as deel van ‘n strategiese inisiatief om georganiseerde misdaad te bestry.
En tweedens word berig die minister het ook ‘n beduidende toewysing van 26-miljard-rand aangekondig om MIV/VIGS-programme te verbeter.
# Sowetan:
Berig ‘n onderwyser van Soweto het na bewering ‘n graad 11-leerder 92 houe met ‘n stuk pyp toegedien omdat haar opstel te lank was. Die gemeenskap eis nou dat die leerkrag verwyder word, want die leerders is te bang om skool toe te gaan.
# En The Citizen:
Lei met: “IT’S A GIVE AND TAKE”. Die koerant gee ook ‘n volledige uiteensetting oor hoe die begroting die belastingbetaler raak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor vyf maniere waarop die begroting die verbruiker se sak raak. Voorts skryf die koerant 400-miljoen-rand is vir bek-en-klouseer begroot, belastingverligting van 13,7-miljard-rand is toegestaan en maatskaplike toelaes styg met 3,6-persent om voorsiening te maak vir inflasie.
En tweedens is daar nuus oor ‘n moontlike bek-en-klouseer geval wat in die Swartland-munisipaliteit se gebied geïdentifiseer is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Gee eerstens soos van die ander koerante ‘n volledige ontleding van die begroting, spesifiek waar dit landsburgers raak.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n afpersingsbedrogspul waarby ‘n prostituut, ‘n polisiebeampte en ‘n vals regter betrek word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n onderwyser by ‘n voorskool aan die Suidkus, Melanie Wessels, het ontkom toe sy 100 meter met haar Corsa oor ‘n afgrond by die Oribi-kloof gestort het.
Dan word berig pous Leo gaan later vanjaar Angola besoek.
En ten slotte het die koerant ook begrotingsnuus.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig spesifieke bestuurstelsels vir pasiëntvloei sal vir staatsamptenare toegewys word wanneer hulle op 1 April as deel van Visie April 2026 privaat hospitale vir staatshospitale moet verruil.
En tweedens skryf die koerant die toekoms van in situ-loging van uraanontginning in die Omahekestreek sal volledig deur tegniese bewyse en wetenskaplike bevindings bepaal word.