Nuus 06:00
BULLETIN 26 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die nasionale begroting is ’n bewys dat die ANC nie meer alleen regeer nie
# Die Madlanga-kommissie praat met die Presidensie oor ‘n moontlike verlenging
# En krieket: Enoch Nkwe sê Shukri Conrad kry resultate omdat die spelers weet wat hy wil hê
# Die DA sê die 2026 nasionale begroting is ‘n bewys van koalisie-invloed, veral in die belasting- en kleinsakebeleid. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die begroting gister in die Parlement ter tafel gelê, waar hy ‘n groei van 1,8-persent in die bruto binnelandse produk oor die mediumtermyn voorspel het, die belastingverhogings van 20-miljard-rand teruggetrek het wat voorlopig in die Mei 2025-begroting ingesluit is, en maatskaplike toelaes verhoog het. Mark Burke van die DA sê geen begroting is perfek nie, maar hierdie een is ‘n verbetering:
Intussen het die uittredende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, trots en gemengde emosies uitgespreek tydens die laaste Nasionale Begrotingsrede wat hy as kommissaris bygewoon het. Kieswetter het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gesê die Inkomstediens is herbou tot ‘n betroubare, wêreldklas-instelling wat regeringsdienslewering kan ondersteun. Hy is verlig om die “warm stoel”, soos hy dit noem, oor te gee, maar sê dit was ‘n voorreg om die diens te posisioneer vir ‘n sterker, meer geloofwaardige toekoms:
# Die Madlanga-kommissie is in gesprek met die Presidensie oor ‘n moontlike verlenging van sy sperdatum van 17 Maart. Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Mbuyiseli Madlanga, ondersoek bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel. Die woordvoerder, Jeremy Michaels, het verwys na afwesige getuies en die breë omvang van die mandaat wat vererger word deur vertragings sedert die aanvang van die kommissie in September.
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Narend Singh, het ‘n beroep gedoen vir sterker belegging en stappe om Afrika se groen ekonomie te laat groei. Singh het tydens die Afrika groen ekonomie-beraad in Kaapstad gesê die oorgang na skoon energie, volhoubare vervoer en klimaatslim boerdery is noodsaaklik vir ekonomiese groei en werkskepping. Hy bepleit meer samewerking tussen regerings, ondernemings en beleggers om te verseker Afrika bly mededingend terwyl ‘n lae-koolstof- en volhoubare toekoms gebou word.
# Onderhandelaars van Oekraïne sal moontlik vandag met Amerikaanse verteenwoordigers, insluitend president Donald Trump se gesant in die Midde-Ooste, Steve Witkoff, in Genève, Switserland, vergader. Moskou en Kiëf verskil steeds oor wie watter grond kry in ‘n na-oorlogse skikking. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê die vergadering sal deel vorm van voorbereidings vir ‘n drieledige vergadering met Rusland, wat moontlik vroeg volgende maand sal plaasvind. Hy sê ander kwessies op die agenda is die uitruil van krygsgevangenes en ‘n voorspoedpakket vir die heropbou van Oekraïne.
# Krieket: Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne en hoë prestasie, Enoch Nkwe, sê die Protea-afrigter Shukri Conrad kry goeie resultate omdat die spelers weet wat hy verwag. Conrad het verlede jaar beheer oor al drie formate oorgeneem. Nkwe sê Conrad het daarin geslaag om die T20-span in ‘n meedoënlose eenheid te verander wat die gasheerland Indië in die T20-Wêreldbeker voor meer as 90-duisend entoesiastiese tuisondersteuners in Ahmedabad verslaan het. Suid-Afrika speel vandag in dieselfde stadion teen die Wes-Indiese Eilande in die Super Agt-fase.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-83-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-152-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-164-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….