Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya het voor die Madlanga-kommissie getuig dat hy die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala wel ingelig het oor die moontlike kansellasie van tenders ten bedrae van 350-miljoen-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola sê kernwapens waarborg nie veiligheid nie, dit bedreig veiligheid. Hy het tydens ‘n internasionale konferensie in Switserland gesê as Suid-Afrika sy wapens kan vernietig, kan ander lande dit ook doen.
Dan skryf die webblad die invloedryke Amerikaanse TV-program 60 Minutes het tydens ‘n besoek in Suid-Afrika bevind plaasmoorde is nie volksmoord nie, maar vorm deel van die land se uitgebreide misdaadprobleem.
En laastens is daar nuus oor die kragsituasie in Bloemfontein nadat ‘n transformator in die Bayswater-kragsentrale ontplof het. Die noordelike inwoners gaan gebuk onder kragonderbrekings.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die omstrede Noordwes-sakeman, Brown Mogotsi, het teenoor die Parlement se ad hoc-komitee erken dat hy in 2010 in hegtenis geneem en van moord aangekla is na ‘n geveg waarin ‘n man gesterf het. Hy sê die saak is later teruggetrek weens ‘n gebrek aan getuienis.
En tweedens word berig die Thabamoopo-streekhof in Limpopo het ‘n 38-jarige man tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van sy 13-jarige stiefdogter. Die man se identiteit word weerhou om die slagoffer te beskerm.
# Sowetan:
Berig soos Business Day ook oor Sibiya se getuienis voor die Madlanga-kommissie dat hy Cat Matlala ingelig het oor tenders.
# En The Citizen:
Skryf die verslag van die 2030 Leespaneel dui daarop dat 15-persent van graad 3-leerders nie ‘n enkele woord kan vertolk nie, terwyl 81-persent van graad 4-leerders nie sinvol in konteks kan lees nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die reuse-ontwrigting wat gevolg het toe ‘n brand gister by die Kaapstadse Internasionale Lughawe uitgebreek het. ‘n Kragonderbreking het passasiers vir ure gestrand gelaat. Die brand het op die dak van die lughawegebou uitgebreek, maar dit is onduidelik wat die oorsaak was. Die vertragings sal vandag voortduur.
En tweedens word berig oor die meningitis-gevaar wat steeds bestaan by ‘n voorskool in Tygerberg.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig sommige ANC-leiers in Nelson Mandelabaai wil hê die burgemeester en ANC-voorsitter, Babalwa Lobishe moet spesiale verlof neem terwyl sy verhuring van ‘n transformator van 25-duisend-rand aan ‘n privaat maatskappy ondersoek word.
En die koerant skryf tweedens Kariega kan voordeel trek uit ‘n behuisingskending deur die Verenigde Arabiese Emirate.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens soos The Citizen oor die verslag wat bekend gemaak is oor die swak leesvaardighede van Suid-Afrikaanse leerders.
En tweedens word berig daar is samesprekings oor die opgradering van die winkelsentrum in Pietermaritzburg se middestad.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die sekuriteitsmaatskappy G4S Secure Solutions sê hy sal volgens sy ooreenkoms net vir vier-duisend-200-rand aanspreeklik gehou kan word ná die Namdia diamantroof en nie die 314-miljoen-rand wat geëis word nie.
En tweedens skryf die koerant ernstige bewerings van boeliegedrag word teen ‘n skool in Windhoek ondersoek.