Nuus 06:00
BULLETIN 25 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering herbevestig dat hy geen verdraagsaamheid vir korrupsie het nie
# Die DA neem die Johannesburgse watertenk-tendergeveg na die Spesiale Ondersoekeenheid
# En die G7-leiers herhaal hul onwrikbare steun aan Oekraïne
# Die regering sê ‘n deurbraakondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na korrupsie by die Departement van Binnelandse Sake toon dat president Cyril Ramaphosa se teenkorrupsieprioriteite aktief ingestel word. Die ondersoek het bedrog in die uitreiking van amptelike dokumente aan onwettige immigrante, wat openbare vertroue en nasionale veiligheid ondermyn, aan die lig gebring. Die adjunkregeringswoordvoerder, William Baloyi, sê die vernietiging van korrupsie is kernbelangrik vir die verbetering van dienslewering en die versterking van staatsinstellings:
# Die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê verdagtes in KwaZulu-Natal wat met sake onder die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, verbind word, oorleef selde om verhoor te word. Mogotsi sê arrestasies eindig dikwels met verdagtes wat vermoor word, en dus ontneem word van ‘n regverdige regsproses. Mogotsi beklemtoon dit ondermyn demokratiese wetstoepassing, in teenstelling met ander provinsies waar verdagtes aangekeer word en dan in die hof verskyn:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof het die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester se dringende aansoek van die hand gewys, waarin hy beweer sy reg op ‘n billike verhoor word geskend. Hy wil hê die Departement van Korrektiewe Dienste moet verplig word om sy prokureurs voldoende tyd en fasiliteite te gee sodat hy vir die verhoor kan voorberei. Hy het ook toegang tot ‘n skootrekenaar versoek. Bester het ook aangevoer dit is ongrondwetlik om 23 uur per dag in ‘n enkelsel aangehou te word. Regter Petrus Daffue sê Bester kon nie bewys sy grondwetlike regte is geskend is nie.
# Die DA sê hulle sal Johannesburg Water se betwiste tenkertender na die Spesiale Ondersoekeenheid neem. Dit volg na ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Johannesburg wat ‘n omstrede watertenkertender van 263-miljoen-rand ongeldig verklaar en tersyde gestel het. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA vra ‘n volledige ondersoek ingevolge teenkorrupsiewette en waarsku dat openbare fondse deursigtig bestuur moet word, veral omdat inwoners steeds voortslepende wateronderbrekings in die gesig staar:
# Die leiers van G7-moondhede het opnuut hul onwrikbare steun aan Oekraïne bevestig vir die verdediging van sy gebiedsintegriteit en reg om te bestaan, asook sy vryheid, soewereiniteit en onafhanklikheid. Gister was die vierde herdenking van Rusland se volskaalse inval in Oekraïne. Die G7-leiers sê hulle ondersteun steeds die Amerikaanse president Donald Trump se vredesproses, wat die partye by besprekings betrek. Die leiers erken egter dat slegs Oekraïne en Rusland, deur onderhandelinge in goeie trou, ‘n vredesooreenkoms kan bereik.
# Rugby: Die Springbokke skop op 20 Junie hulle toetsseisoen af met ‘n wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha. Kaartjieverkope vir die wedstryd open vandag, met pryse wat begin by 250-rand. Die uitnodigingspan sal afgerig word deur voormalige All Blacks-mentor Scott Robertson, Pumas-afrigters Felipe Contepomi en Kenny Lynn, en die afrigter van Racing 92, Patrice Collazo. Die wedstryd vind plaas twee weke voor die wêreldkampioen op Ellispark in Johannesburg teen Engeland speel in die nuwe Nasieskampioenskap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-118-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-142-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….