Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die ANC se verkiesingsmanifes wat die naweek in Johannesburg bekendgestel is. Die koerant skryf die party het ses punte uitgespel wat onder meer werkskepping, verantwoordbare finansiële bestuur en gemeenskapsdeelname insluit.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ANC ondervind probleme met sy veldtog vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Die koerant skryf die party moes met die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes die aankondiging van sy burgemeesterskandidate tot September uitstel.
En tweedens word berig die minister van Kleinsakeontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, neem van vandag af waar as minister van Gesondheid terwyl Aaron Motsoaledi met siekteverlof is.
GAUTENG:
# The Star:
Lei ook met die ANC se verkiesingsveldtog en skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het erken die ANC kan nog baie meer doen. Hy sê die party het nie die reuse-aanvraag vir dienste in Gauteng verwag nie en moes ‘n migrasiekwessie hanteer wat van die begin af swak bestuur is.
# Sowetan:
Berig ook oor die ANC se plan om die verkiesing te wen. Die koerant skryf die sespunt-aksieplan is gemik op dienslewering, beleggings en gemeenskapsveiligheid.
# En The Citizen:
Skryf ‘n vlugveiligheidsinspekteur is afgedank nadat hy kommer uitgespreek het oor ‘n noodlottige ongeluk van die Burgerlugvaartowerheid naby George in 2020. Die owerheid het aangevoer dat hy inligting waaroor hy beskik, misbruik het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n jong paartjie wat saam in ‘n motorongeluk omgekom het.
En skryf die Weermag het nou eers fondse ontvang vir Operasie Floreer. Dis vyf maande nadat die optrede teen bendegeweld in die Wes-Kaap begin het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ANC-raadslede in Knysna leef in vrees nadat drie ANC-lede doodgeskiet is. Die koerant skryf sommige raadslede is na veilige woonplekke verskuif.
Dan skryf die koerant daar is ‘n tekort aan motoronderdele in Nelson Mandelabaai en tientalle voertuie kan nie herstel word nie.
En laastens is daar nuus oor groeiende sakegeleenthede in die Oos-Kaap as gevolg van ‘n sterk toename in uitvoere na Brittanje.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisie ondersoek verskeie strafregtelike sake wat verband hou met die Richmond-opleidingskamp, insluitend aanranding, verkragting en laster. Die KwaZulu-Natal Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ondersoek ook die fasiliteit se wettige registrasie en voldoening aan voorgeskrewe standaarde.
En tweedens word berig die ANC se lys van moontlike burgemeesterskandidate vir die Msunduzi-munisipaliteit is aangekondig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering oorweeg stappe teen ‘n senior amptenaar van die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming wat na bewering ‘n omstrede ooreenkoms van 39,5-miljoen-rand vir kunsmatige intelligensie en satelliet-oesmonitering gemagtig het.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese staatshoof, president Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die repatriasie van twee helde van die bevrydingstryd en die oorskot van 84 voorvaders na Namibië beskryf as ‘n daad van herstel van die land se waardigheid en identiteit.