Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê die regering het geen befondsing van Iran ontvang in in ruil vir sy aanklag van volksmoord teen Israel oor die Gasa-konflik nie. Sy sê die bewerings is deel van ‘n terugvegveldtog teen Suid-Afrika.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die 35-jarige motorwerktuigkundige, Jannie de Bruyn wat langs die N14-snelweg naby Coligny in Noordwes dood is toe die vragmotor waaraan hy gewerk het deur ‘n ander vragmotor getref is.
Dan skryf die koerant oor die verskyning van Piet Groenewald en Stephan Greeff in die Groblersdal-landdroshof in verband met aanrandingsklagtes. Die minister van Justiese en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola en minister van Polisie, Bheki Cele het by die hof opgedaag en gemaan dat die swaai van ou Suid-Afrikaanse vlae die mense ontstel.
En laastens word berig die Tshwane Metro sê hy verwelkom inwoners wat slaggate herstel, maar hy moet vooraf ingelig word.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Suid-Afrikaanse banke het ontken dat hulle enige bande met Hamas het.
En berig die opskorting van die veiling van Mandela se besittings is allerweë verwelkom.
# Sowetan:
Berig ook oor die Groenewald/Greeff-saak in Groblersdal. Die hoofopskrif lui: “I NEVER MEANT TO HURT HIM”.
# En The Citizen:
Skryf ‘n diabetiese pasiënt wie se toon by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal afgesit sou word, het wakker geword sonder ‘n been.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Kopanong-munisipaliteit wat dienste lewer aan nege dorpe in die suide van die Vrystaat se bankrekening is bevries omdat hy onder meer 100-miljoen-rand aan die pesioenfonds skuld. Die munisipaliteit kan nie die maand enige salarisse betaal nie.
En tweedens skryf die koerant die 63-jarige kankerlyer, Carol de Swardt is gistermiddag in ‘n Switserse kliniek met bystand dood.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig nog ‘n kind is op die Kaapse Vlakte dood nadat ‘n dwaalkoeël haar getref het. Sy was die 12-jarige Firdous Kleinsmidt van Lentegeur en is die 76ste slagoffer die afgelope drie maande.
Dan skryf die koerant een van Maties se adjunkregistrateurs, Ashwin Daniels sal ná die jongste ontgroeningsherrie vir twee jaar toesig hou oor die Wilgenhof-manskoshuis.
En laastens is daar ‘n berig oor ‘n verkeersbeampte van Knysna, Bradley Haines wat ‘n ambulans met ‘n siek baba aan boord na die hospitaal begelei het.
# En Cape Times:
Skryf Pandor sê Israel ignoreer bloot die uitspraak van die Wêreldhof.
En berig daar is net twee ambulanse beskikbaar vir 100 nedersettings in die Oos-Kaap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig onopgeloste kwessies op die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se finansiële jaarstate kan daartoe lei dat sy ongekwalifiseerde oudit vir die 2022/2023-boekjaar teruggetrek word. Dit sal die eerste keer in 12 jaar wees.
En tweedens skryf die koerant oor die moord op Gradwell Jordaan wat in die Elizabeth Donkin Psigiatriese Hospitaal opgeneem is vir terapie. Hy is deur sy kamermaat doodgeslaan.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda het ‘n mosie van wantroue oorleef.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die uitvoerende hoof van die Kankervereniging van Namibië, Rolf Hansen sê kankerbehandeling moet gedesentraliseer word om die meerderheid Namibiërs meer doeltreffend te bedien.
En tweedens skryf die koerant daar is talle vrae nadat sommige raadslede en munisipale personeellede van Rehoboth ‘n strategiese beplanningsessie in Swakopmund gehou het. Dit het die dorp glo 300-duisend-rand gekos.