Nuus 06:00
BULLETIN 5 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie is tevrede met die finale kiesersregistrasienaweek
# Fase 2- en 3-beurtkrag word tot verdere kennisgewing ingestel
# En, Nangolo Mbumba is ingesweer as die nuwe Namibiese president
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die finale kiesersregistrasienaweek voor die verkiesing het goed verloop. Meer as ‘n halfmiljoen registrasies is Saterdag by 23-duisend-303 stemlokale aangeteken. Teen eenuur gistermiddag was daar reeds ‘n totaal van 564-duisend-715 registrasies aangeteken. Voorlopige syfers toon KwaZulu-Natal het die meeste registrasies aangeteken met 131-duisend-431, gevolg deur Gauteng en die Oos-Kaap. Die OVK sê sy webwerf en munisipale kantore sal oop bly vir registrasie en nagaan van besonderhede, totdat president Cyril Ramaphosa die datum vir die verkiesing afkondig.
Intussen het adjunkpresident Paul Mashatile pogings verwerp om twyfel te saai oor die geloofwaardigheid van die komende verkiesing. Dit volg nadat oudpresident Jacob Zuma die Onafhanklike Verkiesingskommissie daarvan beskuldig het dat hulle die ANC bevoordeel, en beweer het sommige OVK-amptenare kan omgekoop word om die kommissie se stelsel te omseil. Zuma werf stemme vir die nuutgestigte uMkhonto weSizwe Party. Mashatile sê hy het volle vertroue dat die OVK ‘n vrye en regverdige verkiesing sal aanbied, soos hulle nog altyd gedoen het.
# Eskom het fase twee-beurtkrag ingestel tot vieruur vanmiddag, waarna fase drie tot môreoggend vyfuur van krag sal wees. Hierdie patroon van fase twee in die oggend en fase drie in die middag sal tot verdere kennisgewing herhaal word. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die stabilisering van die kragstelsel het daartoe gelei dat beurtkrag tot fase twee verlaag kon word, maar die verwagte vraag na elektrisiteit gedurende die week, noodsaak die toepassing van fase drie:
# Die Groter Tshwane-streek van die ANC het die onwaarhede veroordeel wat op sosiale media versprei word en wat sê die ontslape Teboho Joala het hom by die uMkhonto we Sizwe-party aangesluit. Die ANC sê hy verwerp die waninligting met die minagting wat dit verdien. Hy voeg by die mense wat die valshede verkondig het geen respek vir Jaola en sy nalatenskap in die ANC nie – ‘n organisasie wat hy tot sy dood gedien het. Die ANC se streekwoordvoerder, Bafuze Yabo, sê die verspreiding van waninligting is ‘n ernstige oortreding, nie slegs uit ‘n morele oogpunt nie, maar ook wetlik.
# Namibië se vise-president, Nangolo Mbumba, is ingesweer as die land se nuwe president ná die skielike dood van president Hage Geingob gister. Die 82-jarige is dood terwyl hy behandeling vir kanker in die Lady Pohamba-hospitaal in die hoofstad, Windhoek, ontvang het. Die adjunk-eerste minister, Netumbo Nandi-Ndaitwah, is met onmiddellike ingang as die land se nuwe vise-president aangestel. Mbumba sê hy sal as president dien tot die verkiesing later vanjaar:
# Gholf: Rhys Enoch van Wallis het die SDC Ope by die Zebula Gholflandgoed en Spa in Limpopo gewen, nadat hy twee houe voor die Suid-Afrikaners Deon Germishuys en Martin Rohwer geëindig het. Die Suid-Afrikaner Dylan Naidoo was vierde op 20 onder baansyfer, met George Bloor en Chris Paisley van Engeland een hou verder terug in ‘n gesamentlike vyfde plek. Enoch, wat die Uitdaagtoernooi nou vir die tweede keer gewen het, sê hy is bly om op die wenpad terug te wees na ‘n moeilike twee jaar van beserings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-381-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….