Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe het die bemagtigingsveldtog by die Myn-indaba in Kaapstad verdedig. Die koerant skryf dit volg ten spyte van sy ommekeer oor swart bemagtiging op prospekteringsregte.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die burgemeesterskandidaat van die Patriotic Alliance in Johannesburg, Kenny Kunene, is van mening dat die burgemeester, Dan Morero, moet bedank, want hy weet nie hoe om met mense te werk nie.
Tweedens skryf die webblad die omstrede Mariana Kotze van Marlothpark in Mpumalanga het oplaas erken sy het gelieg oor haar ontvoering. Sy is na bewering met ‘n liefdeslenter na Italië gelok.
En laastens is daar nuus oor die negejarige Chris Foord van Bothaville in die Vrystaat wat Saterdag doodgeskok is toe hy na bewering op ‘n ontblote kragkabel geval het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf president Cyril Ramaphosa het aangekondig dat Suid-Afrika sy troepe teen die einde van die jaar uit die DRK sal onttrek.
Dan word berig die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, gaan vandag uiteindelik die geleentheid kry om sy saak voor die parlementêre ad hoc-komitee te stel.
En laastens skryf die koerant oudpresident Jacob Zuma se naam verskyn nie in die Epstein-dokumente nie.
# Sowetan:
Berig oor die Mpfariseni Secondary School oos van Thohoyandou in Limpopo waar haglike toestande heers. Die skool is slegs een van een-duisend-800 in die provinsie waar dringende herstelwerk noodsaaklik is, maar daar was nog nie enige optrede in die verband nie.
# En The Citizen:
Lei met: “NO RABBIT IN CYRIL’S HAT.” Die koerant skryf kenners waarsku dat daar nie veel verwag kan word van president Ramaphosa se staatsrede nie. Dit gaan meestal ‘n heraanbieding van ou beloftes en planne wees.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die wydverspreide reën in die Wes-Kaap wat groot verligting gebring het, maar ook skade aangerig het. Skade is veral in die Overstrand-munisipaliteit aangemeld.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n vrou wat by ‘n begrafnis uitgevind het sy het meer as 800-duisend-rand gewen. Ithuba het haar opgespoor nadat sy die kaartjie reeds op 5 Februarie 2025 gekoop het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n mediese dokter van Nelson Mandelabaai word daarvan beskuldig dat hy ‘n tiener verkrag het.
En tweedens skryf die koerant president Ramaphosa het in Gqeberha hulde gebing aan die afgestorwe biskop John Bolana van die Bantu Church of Christ.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens lesers moet versigtig wees want die hittegolf wat nou oor die gebied strek lok ook talle slange om te beweeg.
En tweedens word berig die debatsafrigter, Lindokuhle Ngobese wat na bewering leerders bedrieg het, is in hegtenis geneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n verslag wat beweer dat marmerafval met asbes in Karibib gestort word, het openbare onrus ontketen, teenkanting uit die bedryf uitgelok en ’n munisipale ondersoek aan die gang gesit.
En tweedens skryf die koerant Johan en Magda Spannenberg van Grootfontein wat 50 jaar gelede getroud is, het toevallig ontdek hul huwelik was nooit amptelik geregistreer nie. Hulle is nou vir die eerste keer wettig getroud.