Nuus 06:00
BULLETIN 10 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA doen ‘n beroep op president Ramaphosa om elektrisiteitshervormings te verduidelik
# Solidariteit waarsku die korrupsie-aantygings by Denel bedreig nasionale veiligheid en openbare vertroue
# En krieket: Suid-Afrika skop met ’n oorwinning af by die T20-Wêreldbeker
# Business Leadership South Africa sê president Cyril Ramaphosa moet sy standpunt oor elektrisiteitshervorming verduidelik. In Desember het die Departement van Elektrisiteit en Energie ‘n hersiene ontbondelingsplan vir Eskom goedgekeur, wat volgens BLSA die ooreengekome beleid ondermyn. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die hersiene Eskom-ontbondelingsplan laat transmissiebates by die kragverskaffer, eerder as om dit oor te dra na die onafhanklike transmissiestelseloperateur soos die beleid vereis. Sy sê dit werp ‘n donker wolk oor die toekoms van elektrisiteitshervorming.
# Die vakbond Solidariteit sê Denel worstel met ‘n ernstige leierskap- en bestuurskrisis. Dit volg ná berigte oor beweerde korrupsie en wanbestuur by die staatsbeheerde verdedigingsonderneming. Solidariteit waarsku onlangse probleme, insluitend agterstallige salarisse, dui op ‘n groter mislukking wat nasionale veiligheid en openbare vertroue bedreig. Derek Mans van Solidariteit versoek die raad om topbestuurders te skors, hul samewerking aan wetstoepassing te gee en dringend op te tree om etiese bestuur te herstel:
# Die Gauteng Wetgewer se gemeenskapsveiligheidskomitee sê onwettige mynbou het Bekkersdal in ‘n oorlogsone verander, met geweld, skietery en ontvoerings wat toeneem. Nege mense is dood en 21 beseer in ‘n skietery by ‘n taverne in Desember, en onlangse aanvalle wakker steeds vrees aan. Polisie sê hoëkalibervuurwapens wat met georganiseerde misdaad verbind word, is hiervoor gebruik. Die komitee se voorsitter, Bandile Masuku, bepleit dringende optrede, beter wetstoepassing en verbeterde infrastruktuur om inwoners veilig te hou:
# Die Stad Kaapstad sê die energiereguleerder, Nersa, se besluit om Eskom se jaarlikse tariefverhoging vir die volgende twee jaar tot byna nege-persent op te skuif, is onregverdig teenoor verbruikers. Die stad voer aan dat Nersa die verhoging moes geskrap het hangende ‘n volledige herbeoordeling van die nutsmaatskappy se meerjarige prysaansoek. Hy verwys na foute in batewaardevermindering, verouderde waardasies en verkeerde finansiële voorspellings. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die stad oorweeg regstappe teen die besluit.
# Die Skotse Arbeidersleier, Anas Sanwar, het die Britse premier, Keir Starmer, versoek om te bedank. Starmer is onder druk nadat sy oordeel bevraagteken is oor die aanstelling en daaropvolgende afdanking van Peter Mandelson as Amerikaanse ambassadeur. Mandelson het marksensitiewe regeringsinligting aan die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein oorgedra. In reaksie hierop sê Downingstraat die eerste minister het ‘n duidelike vyfjaar-mandaat van die Britse volk om verandering te bewerkstellig, en dit is wat hy sal doen. Sanwar sê ‘n verandering in leierskap is nodig:
# Krieket: Verlede jaar se finalis, Suid-Afrika, het hul T20-Wêreldbeker-veldtog met ‘n oorwinning afgeskop en Kanada met 57 lopies in Ahmedabad, Indië, geklop. Kaptein Aiden Markram se 59 lopies van 32 balle en David Miller se onoorwonne 39 lopies het die Proteas tot 213 vir vier in hul toegelate 20 boulbeurte geneem. In reaksie, kon Kanada ten spyte van Navneet Dhaliwal se indrukwekkende 64 van 49 balle, slegs 156 vir agt aanteken. Lungi Ngidi was die top-bouler en het vier paaltjies laat val. Suid-Afrika se volgende kragmeting in Groep D is môre teen Afghanistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-436-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-59-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….