Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Jacob Zuma-trust het ten sterkste ontken dat die oudpresident by enige onwettige optrede deur die veroordeelde Amerikaanse pedofiel, Jeffrey Epstein betrek word. Dit volg op onthullings deur die Amerikaanse Departement van Justisie waarin Zuma se naam genoem word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Landbou, John Steenhuisen sê die regulasies vir die uitvoer van proudukte na die Europese Unie is lank voordat hy lid van die kabinet geword het, saamgestel. Die minister is deur Saai gekritiseer oor die swart bemagtigingsaspek in die regulasies.
En laastens skryf die webblad oor die dood van die swem-legende John Flanigan en die agterstand met ballistiese toetse in die Wes-Kaap. Beide die stories verskyn ook op Die Burger se voorblad.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf met die afsluiting van die EFF se tweede jaarkongres in Johannesburg het die leier Julius Malema opnuut ‘n beroep gedoen dat die Israelse ambassade in Suid-Afrika gesluit moet word.
En tweedens word berig oor die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige diens te midde van bek-en-klouseer.
# Sowetan:
Lei met: “TOP COPS AT LOGGERHEADS”. Die koerant skryf oor die spanning en stryd tussen die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Lesetja Senona en die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi.
# En The Citizen:
Skryf Gauteng se rykste skole se provinsiale befondsing gaan met tot 64-persent gesny word. Kenners waarsku dit sal ‘n vernietigende verlies aan leerkragte, dienste en infrastruktuur meebring.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n swem-legende van Bloubergstrand, die 80-jarige John Flanigan, is Saterdag in ‘n kajak-voorval in die omgewing van On the Rocks dood. Hy het verlede maand die oudste swemmer geword om die tog na Robbeneiland te voltooi.
En tweedens skryf die koerant die ballistiese toetse wat binne 90 dae op bykans drie-duisend gekonfiskeerde vuurwapens in die Wes-Kaap uitgevoer moes word, is nie afgehandel nie. Die DA sê dit het ‘n regstreekse uitwerking op die ondersoek van misdade.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n DA-wykraadslid van Gqeberha, Margaret de Andrade, word beskuldig dat sy haar personeel boelie. Twee personeellede het na bewering reeds bedank.
En tweedens skryf die koerant die geskiedkundige hoofbiblioteek in Gqeberha het na ‘n dekade weer sy deure oopgemaak en het nou ‘n toerismebestemming geword wat fokus op die stad en omgewing se geskiedenis.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die hoof van die Valke in die provinsie, Lesetja Senona se magte is ingekort.
En berig Pietermaritzburg se busskema is geskrap.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig toeroperateurs het die toekenning van ’n 25 jaar lange konsessie vir die toegang tot Sandwich Harbour bevraagteken. Die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme het die toekenning aan Sandwich Dune Tours and Safari gedoen wat aan Kenneth Kapitako Napenda behoort.
Tweedens skryf die koerant die politieke ontleder Rui Tyitnede meen kritici van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië se direkteur-generaal, Paulus Noa sien nie die lang termyn uitwerking van korrupsiekwessies raak nie.
En laastens is daar nuus oor die sogenaamde gemeenskapsheld van Gobabis wat die paaie rondom die plaaslike ouetehuis, Huis Deon Louw, herstel het.