Nuus 06:00
BULLETIN 2 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jacob Zuma-stigting ontken bande met Jeffrey Epstein
# Die Presidensie bevestig daar sal geen weermagontplooiing in die Kaapse Vlakte wees nie
# En tennis: Carlos Alcaraz maak geskiedenis met sy eerste Australiese Ope-titel
# Die Jacob Zuma-stigting het bewerings ten sterkste ontken waarvolgens voormalige president Jacob Zuma met die oorlede veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein verbind word. Die ontkennings volg na nuwe onthullings deur die Amerikaanse Departement van Justisie, wat drie-miljoen bladsye uit die Epstein-lêers vrygestel het. Volgens Daily Maverick dui e-posse daarop dat Epstein ‘n intieme ete vir Zuma gereël het tydens sy staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk in 2010. Die stigting se Mzwanele Manyi sê die verslae is ‘n poging is om Zuma se reputasie skade te berokken:
# AgriSA het gewaarsku dat voorgestelde veranderinge aan grond-, arbeids- en waterwette onprakties kan wees en die gevaar inhou om landbou te destabiliseer. In sy 2026-beleidsvooruitsig doen die organisasie ‘n beroep op bewysgebaseerde, realistiese hervormings om voedselsekerheid en landelike lewensbestaan te beskerm. Hy sê grondhervorming is steeds swak, arbeidsreëls duur en waterregulasies lastig. AgriSA sê die regering moet sekerheid, beleggersvertroue en sektorspesifieke oplossings eerste stel om groei en werk te ontsluit.
# Die DA in Gauteng het premier Panyaza Lesufi gewaarsku die herinstelling van Lesiba Malotana as hoof van die Gautengse Gesondheidsdepartement sal die voortslepende gesondheidskrisis vererger. Die woordvoerder, Jack Bloom, het verwys na Malotana se skorsing ná ‘n mislukte leefstyloudit en sy betrokkenheid by die Tembisa Hospitaal en Persoonlike Beskermende Toerusting-kontrakskandale. Bloom vra Lesufi om die waarnemende Departementshoof Darion Barclay te steun, en bekwame leiers aan te stel om hospitaal- en kliniekdienste in Gauteng te verbeter:
# Die Presidensie het bevestig daar is geen planne om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag na die Kaapse Vlakte te ontplooi nie, ten spyte van berigte dat meer as 200 mense in Januarie dood is weens toenemende bendegeweld. Die besluit is geneem ten spyte van 95 moorde in die eerste 17 dae van 2026 in die Wes-Kaap, ‘n gemiddeld van elf per dag. Die moorde is hoofsaaklik weens massaskieterye en bendeverwante geweld. Gemeenskappe en burgerlike groepe bepleit strenger optrede om brandpunte bestendig te maak.
# Iran se opperleier, Ajatollah Ali Khamenei, het gewaarsku dat enige Amerikaanse militêre aanval op sy land ‘n breër streeksoorlog kan ontketen. Dit volg te midde van toenemende spanning nadat Washington sy militêre teenwoordigheid in die Midde-Ooste versterk het. President Donald Trump het gedreig om in te gryp oor Iran se kern-ambisies en na die dodelike onderdrukking van anti-regeringsbetogings. Khamenei sê hulle is nie die aanstigters nie en Iran sal terugveg indien hulle aangeval word.
# Tennis: Wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het die jongste man geword om die loopbaan-Grand Slam te voltooi deur sy eerste Australiese Ope-titel te verower. Die 22-jarige Spanjaard het ‘n stel ingehaal om die tienmalige kampioen Novak Djokovic van Serwië met 2-6, 6-2, 6-3, 7-5 te klop en sy sewende groot titel verseker. Die 38-jarige Djokovic het gehoop vir sy 25ste Grand Slam-titel. Alcaraz sê die najaag van ‘n Grand Slam op die jaarprogram is ‘n groot uitdaging, maar een wat hom opgewonde maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-437-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-895-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….