Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, beveel om teen 1 November ‘n plan in te dien vir regstellende stappe by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die koerant skryf haar ondersoek het bevind dat ongeveer 40-duisend studente by 76 hoëronderwysinstellings onbehoorlik befonds is teen ‘n geraamde koste van 5,1-miljard-rand.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, sê die Onteieningswet het ten doel om grondtoegang vir swart Suid-Afrikaners in verhouding tot hul bevolkingsaandeel te verseker. Hy sê swart mense is deur die koloniale en aparteidsregerings ontwrig.
En tweedens skryf die webblad die liggaam van ‘n vermiste valskermswewer is in die berge noord van Porterville gevind. Hy is sedert Maandag vermis toe hy nie by sy landingsplek opgedaag het nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag sal na verwagting die week alle aanklagte teen die hoof van misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, brigadier Dineo Mokwele en ander medebeskuldigdes terugtrek. Die koerant berig daar is ernstige vrae oor die ondersoek wat begin het as bewerings van bedrog en korrupsie rondom Mokwele se aanstelling as brigadier.
# Sowetan:
Berig ‘n Tshwane-metropolisiebeampte, Peter Nonyane, ook bekend as “Lamasweet” is in hegtenis geneem nadat ‘n motorhandelaar die aankoop van ‘n Mercedes G63 ter waarde van 1,93-miljoen-rand onder die metro se aandag gebring het. Sy prokureursvrou het na bewering drie-miljoen-rand uit boedels verduister.
# En The Citizen:
Lei met: “THE BIG ESKOM RIP-OFF”. Die koerant skryf huishoudings se kragrekening het die afgelope 20 jaar met 907-persent gestyg. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het egter ‘n nuwe billike tariefstruktuur belowe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor die ondersoek van die Openbare Beskermer na die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente.
En tweedens skryf die koerant ‘n 16-jarige tiener van Malmesbury het gister in die hof verskyn nadat ‘n ondersoek deur die Amerikaanse FBI hom na bewering verbind het met gewelddadige aanlyn kinderuitbuitingsnetwerke. Hy is Maandag deur die SAPD in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Lei met: ”FRAIL AND ELDERLY STRIPPED OF DIGNITY”. Die koerant berig oor die haglike omstandighede by ‘n Nelson Mandelabaai-ouetehuis.
En tweedens skryf die koerant die Tesourie en Ouditeur-Generaal is versoek om in te tree en die Nelson Mandelabaai-metro te keer om 23-miljard-rand af te skryf.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Sobantu-gemeenskap gaan gebuk onder ‘n geweldige stank van die Darvill-watersuiweringsaanleg, wat gesondheidsprobleme en ongemak vir inwoners veroorsaak.
En tweedens berig die koerant ook daar was onreëlmatige betalings ter waarde van 5,1-miljard-rand deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kantoor van die ombud, Basilius Dyakugha, het bevestig dat sy ondersoekverslag oor die voorgestelde Baynes-hidrokragprojek nooit aan die projek se eenheid gestuur is nie.
En skryf tweedens ná 54 jaar het Namibië se grootste bokuitvoerder na Suid-Afrika, die André Rossouw Trust van Maltahöhe, handdoek ingegooi weens die reuse-koste om bokke uit te voer.