Nuus 06:00
BULLETIN 31 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC soek ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing
# Die Energiereguleerder keur die elektrisiteitsprysbepalingsreëls goed
# En, Israel se premier sê sy magte sal nie aan die Gaza-strook onttrek word nie
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC sal hom beywer vir ‘n volstrekte meerderheid in die komende verkiesing, om stabiliteit te verseker en vooruitgang in die land te handhaaf. Die Inclusive Society Institute sê hoewel ANC-steun onder stemgeregtigde kiesers tot 33-persent gedaal het, sal dit waarskynlik nog ‘n regering kan vorm, maar dis onwaarskynlik dat die party ‘n meerderheid sal wen. Ramaphosa het gister tydens die slotrede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee Lekgotla in Ekurhuleni gesê, hulle sal hulle veldtog na elke uithoek van die land neem:
# Die president sê verder dit is duidelik dat die strategie van die ANC se teenstanders is om anti-transformasiemagte te konsolideer deur dinge soos koalisies of pakte. Elf partye, insluitend die DA en ActionSA, het die Veelparty Handves vir Suid-Afrika gevorm, in ‘n poging om die ANC in die komende verkiesing te onttroon. En die voormalige ANC-president Jacob Zuma beywer hom nou vir die pasgestigte uMkhonto weSizwe Party. Ramaphosa het gister in sy slotopmerkings by die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee Lekgotla gesê die anti-transformasiemagte finansier selfs splintergroepe en klein partye:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die elektrisiteitsprysbepalingsreëls amptelik goedgekeur, wat ‘n betekenisvolle ontwikkeling in die regulering van die energiesektor aandui. Hierdie reëls, wat onmiddellik van krag is, val onder Nersa se mandaat om die pypgas-, petroleumpypleidings- en elektrisiteitsvoorsieningsnywerhede te reguleer. Die dokument oor die besluit en redes daarvoor, tesame met die elektrisiteitsprysreëls, is nou beskikbaar op Nersa se webwerf om deursigtigheid en toegang tot belangrike inligting te verskaf. Belangstellendes word aangemoedig om skriftelike navrae by die reguleerder in te dien.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het aangekondig hy sal sielkundige ondersteuning bied aan leerders wat ‘n noodlottige skietvoorval aanskou het by die Zakariyyapark-gemeenskapsentrum tydens ‘n terug-skool-toe-veldtog. ‘n Senior bestuurder van Rand Water, Teboho Joala is in die voorval dood, en die hoofsweep van die Stad Johannesburg, Sthembiso Zungu, is gewond en hospitaal toe geneem. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle erken die betreurenswaardige aard van die voorval en poog om die leerders te help om hierdie traumatiese ervaring die hoof te bied:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hulle sal nie magte uit Gaza onttrek of Palestynse gevangenes bevry nie. Dit volg nadat die hoof van Hamas, Ismail Haniyeh, gesê het die militante groep is oop vir ernstige gesprekke oor ‘n moontlike gyselaarsooreenkoms. Ongeveer 136 mense word steeds deur Hamas in Gaza as gyselaars gehou. Netanyahu sê Israel sal die oorlog net beëindig indien hy al sy doelwitte bereik, naamlik om Hamas uit te skakel, al die gyselaars huis toe te bring en te verseker dat Gaza nie meer ‘n bedreiging vir Israel inhou nie.
# Sokker: Suid-Afrika is deur na die Afrikabeker se kwarteindronde, nadat hy een van die toernooi se gunstelinge, Marokko, in die Ivoorkus verslaan het. Evidence Makgopa se doel in die 57ste minuut en ʼn vry-skop van Teboho Mokoena in die vyfde minuut van ekstra tyd, het bygedra tot Bafana Bafana se sege oor die Marokkane, wat in 2022 die halfeindronde van die Wêreldbeker gehaal het. Suid-Afrika speel Saterdag teen Kaap Verde vir ʼn plek onder die laaste vier. Afrigter Hugo Broos sê dit was spesiaal om Afrika se topspan, Marokko, te klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-831-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….