Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die VN-Veiligheidsraad het debat gevoer oor die wettigheid van die ontvoering van Venezuela se leier. Veral Rusland, China en hul bondgenote het die aanval veroordeel. Intussen het Nicolás Maduro in ’n hof in New York onskuldig gepleit op aanklagte van narkotika-terrorisme.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Suid-Afrika het daadwerklike optrede versoek teen oortredings van die internasionale reg soos Amerika se optrede in Venezuela. Suid-Afrika se verteenwoordiger by die VN, Jonathan Passmoor het gesê militêre mag kan nie die belangrikste manier van diskoers in internasionale politiek word nie.
Tweedens skryf die webblad die vlieënier wat Vrydag buite Bloemfontein verongeluk het, Gareth Gill, is bestempel as een van die beste vlieëniers in die land. Hy was lid van die Good Year Eagles Pitts-kunsvliegspan.
En laastens is daar nuus oor verskeie gru-ongelukke waarin jong mense omgekom het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Black Lawyers Association het ‘n ernstige oproep gedoen vir leefstyloudits vir aanklaers sodat die integriteit van die regstelsel getoets kan word.
En tweedens word berig Johannesburg het maatreëls ingestel tydens Rand Water se instandhoudingswerk wat Roodepoort, Soweto en omliggende gebiede vir die volgende 52 uur sonder water kan laat.
# En The Citizen:
Skryf slegs een lugverkeersbeheerbeampte by die OR Tambo-lughawe het siekverlof ingesit en dit het die hele stelsel omvergewerp wat gelei het tot die vertraging van honderde passasiers tot sover as Botswana. Daar was na bewering geen rugsteunplan in plek nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Suid-Afrika se boodskap by die VN.
En tweedens is daar nuus oor ‘n man wat glo die Altena-aftreeoord in die Strand gebel en gewaarsku het dat die inrigting binne 60 minute opgeblaas gaan word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoewel die strandgebied druk besoek word deur plaaslike inwoners, is daar geen teken van buitelandse toeriste nie.
En skryf tweedens oor ‘n pa wat vertel hoe hy sy kind met steekwonde by die huis gevind het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die onderwysstelsel in KwaZulu-Natal ondervind ernstige probleme. Dit sluit in 19-duisend onderwysposte wat in gedrang is weens te min fondse, onderwysers wat staak oor ‘n tekort aan handboeke en ander hulpmiddels en wanbestuur van die onderwysstelsel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Vertel vandag die verhaal van ‘n vrou wat kanker gefnuik het, Heidi van der Merwe, wat nou saam met haar hond Harley op die rug van ‘n motorfiets van Namibië deur Botswana, Zimbabwe en Mosambiek tot in Malawië gaan toer.