Nuus 06:00
BULLETIN 6 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dawie Roodt verwag ‘n positiewe jaar vir Suid-Afrika
# Die Grensowerheid en Weermag verskerp hul beheer by die Beitbrug-grenspos
# En Johannesburg stel noodmaatreëls in tydens Rand Water se instandhoudingswerk
# Die hoofekonoom van die Efficient Group, Dawie Roodt, sê Suid-Afrika kan ‘n positiewe jaar verwag, beide polities en ekonomies. Die plaaslikeregeringsverkiesing sal vanjaar gehou word, terwyl Amerikaanse tariewe ‘n bedreiging vir die land se ekonomie sal inhou. Roodt het aan Daily Investor gesê dat hoewel Suid-Afrika se huidige politieke oorgangsfase geleenthede bied, die moontlikheid steeds bestaan dat dit ook die land se ekonomiese groeivooruitsigte kan benadeel. Hy het ook gewaarsku teen ‘n moontlike finansiële krisis vanjaar, gegewe wat polities in die wêreld gebeur en die onvolhoubare finansiële markte.
# Die Grensbestuursowerheid het grensbeheer by die Beitbrug-grenspos in Limpopo verskerp deur hommeltuie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in te span. Dit het gelei tot die onderskepping van meer as 100 ongedokumenteerde migrante die afgelope week uit Zimbabwe. Kommissaris Michael Masiapato sê twee vermeende smokkelaars is in hegtenis geneem, terwyl 98 migrante gedeporteer is:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê noodplanne is van krag terwyl Rand Water met die laaste 54 uur van instandhoudingswerk by die Eikenhof-pompstasie begin. Inwoners word gewaarsku die volledige herstel van die stelsel sal ná Donderdag nog ten minste sewe dae duur. Water sal voorsien word deur stilstaande en bewegende tenkwaens. Morero het ‘n beroep op raadslede gedoen om met gemeenskappe te kommunikeer, terwyl die stad gereelde opdaterings belowe. Hy sê die instandhoudingswerk is noodsaaklik vir langtermyn-watersekerheid:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê hy is erg bekommerd dat internasionale regsreëls nie gehandhaaf is tydens die Amerikaanse militêre optrede in Venezuela nie. Die afgesette Venezolaanse leier, Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, is Saterdag tydens ‘n militêre operasie gevange geneem. Tydens ‘n noodsitting van die VN se Veiligheidsraad het die ondersekretaris-generaal Rosemary DiCarlo ‘n verklaring namens Guterres voorgelees waarin beklemtoon word dat internasionale reg die grondslag vorm vir die handhawing van vrede en veiligheid:
# Rugby: Die beleërde Bulle hoop om hulle seisoen reg te ruk in hulle volgende twee Kampioenebeker-wedstryde. Die Pretoriase span verkeer onder groot druk na ses nederlae in ‘n ry, insluitend een van 13-8 Saterdag teen die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hoofafrigter Johan Ackermann dink hulle verdediging was heelwat beter en daar was baie positiewe aspekte. Hulle speel komende naweek op Lotftus teen Bristol Bears, en ‘n week later in Frankryk teen Pau.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-33-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-452-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….