Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Pepkor het nog ‘n sterk stel resultate vir sy 2025-boekjaar gerapporteer en sy ses-duisendste winkel geopen. Die kleinhandelaar gaan nou die bankwese betree en het reeds regulatoriese goedkeuring van die die Prudensiële Owerheid ontvang.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die 28-jarige Fatima Patel wat tien jaar gelede vermoor is se man, Rameez, is in die Hooggeregshof in Polokwane skuldig bevind aan haar moord. Regter Joseph Raulinga het tydens sy uitspraak gesê dis simbolies dat hy uitspraak lewer op die eerste dag van die regering se veldtog van 16 dae teen geslagsgeweld.
Dan word berig die regering het die G20-presidentskap by die kantoor van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Pretoria aan die VSA oorhandig.
En laastens is daar nuus oor die skrywer van die Siener van Rensburg-boeke, Adriaan Snyman wat op 87 oorlede is.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig oor ‘n vrou se ontstellende verhaal toe ‘n taxibestuurder haar na bewering aangeval, beroof en probeer verkrag het. Hy het haar toe in ‘n rivier gegooi waar sy teen die vloedwater moes veg om te oorleef.
# En The Citizen:
Lei met: “WHY THE ANC CAN’T BOOT CYRIL”. Die koerant skryf daar heers paniek in die ANC oor die gebrek aan ‘n plaasvervanger vir president Cyril Ramaphosa wat die RNE in gevaar kan stel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald se voorstel dat die debat oor lystraf heropen moet word, is uit talle oorde gekritiseer. Die meeste lede van die portefeuljekomitee het die voorstel as ongrondwetlik bestempel en gesê dis ‘n stap terug na die apartheidstelsel.
En tweedens skryf die koerant die Wildernis-soek-en-reddingspan het die naweek gesukkel om verskeie mense van Tafelberg af te red. Die meeste mense het hulself misgis met die tyd en is in die donker gestrand.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die familie van Namhla Mtwa wat in April 2022 voor haar huis doodgeskiet is sê hulle vertrou niemand in die Oos-Kaap om die moord te ondersoek nie. Haar dossier vorm deel van die dossiere wat deur die polisie se taakspan oor politieke moorde ondersoek is.
En tweedens skryf die koerant ‘n tiener is na bewering tydens ‘n tradisionele seremonie verkrag op die vooraand van die 16 dae veldtog teen geslagsgeweld.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit het ‘n projek van stapel gestuur om die gemors in die middestad op te ruim.
En tweedens word berig skole in Pietermaritzburg het selfone tydens skoolure verban.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Het vanoggend geen digitale weergawe van hul koerant beskikbaar gestel nie.