Nuus 06:00
BULLETIN 26 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika oorhandig die G20-presidentskap aan die VSA
# Vusimuzi “Cat” Matlala versoek uitstel vir sy getuienis voor die ad hoc-komitee
# En nog vier verdagtes in aanhouding oor die Louvre-juweelroof
# Suid-Afrika het die G20-presidentskap aan die Verenigde State oorhandig. Die terloopse oorhandiging het by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se hoofkantoor in Pretoria plaasgevind. Die VSA het die G20-leiersberaad geboikot en wou sy ambassade-chargé d’affaires, ‘n laevlak-diplomaat, stuur om die president se hamer van president Cyril Ramaphosa te ontvang. Hierdie versoek is deur die regering verwerp. Die departement sê die VSA neem die presidentskap op 1 Desember oor.
# Die DA veroordeel die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, vir ondermyning van die Grondwet en die versoek dat wysigings aan die Grondwet toegepas word om sy oproep tot lyfstraf te regverdig. Die party se woordvoerder oor Korrektiewe Dienste, Janho Engelbrecht, sê dit is soortgelyk aan die EFF en MK se agenda om die verskansings wat in die Grondwet vasgelê is, ongedaan te maak:
# Die tenderpreneur, Vusimuzi “Cat” Matlala, het uitstel gevra vir sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee. Matlala, wat tans in die Kgosi Mampuru-maksimumsekuriteit-gevangenis in Tshwane is vir poging tot moord op sy voormalige vriendin, het swak tronktoestande, gesondheidskwessies en onvoldoende tyd vir voorbereiding as redes gegee. Matlala, die vermeende leier van die ‘Groot Vyf’-kartel, staar verskeie ondersoeke in die gesig, insluitend aanklagte van korrupsie, dwelm- en mensehandel, en kontrakmoorde. Dereleen James van ActionSA sê die versoek is vertragingstaktiek en die parlement sal sy werk voortsit.
# Die Vryheidsfront Plus sê daar is ernstige finansiële wanbestuur in die Stad Ekurhuleni. Die party beweer die stad skuld tien-miljard-rand aan krediteure, insluitend vyf-miljard-rand aan Eskom en een-miljard-rand aan Ekurhuleni Water Care Company. Sommige fakture uit 2021 is steeds onbetaald, terwyl nuwer rekeninge betaal is. Denise Janse van Rensburg van die party eis volledige openbaarmaking van alle uitstaande skuld en ‘n duidelike betalingskedule:
# Nog vier verdagtes wat moontlik betrokke was by die roof van Franse kroonjuwele uit die Louvre is in hegtenis geneem. Die kantoor van die aanklaer in Parys het Dinsdag aan CNN gesê twee mans en twee vroue, almal uit die Parys-omgewing, is deur die polisie aangekeer as deel van die ondersoek. Een van die verdagtes is moontlik die vierde lid van die bende wat die rooftog uitgevoer het. Die diewe het op 19 Oktober toegang tot die Apollo-galery op die Louvre se boonste verdieping gekry met ‘n leer wat op ‘n vragmotor gemonteer was.
# Rugby: Die Stormers, wat boaan die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap is, gaan sonder tot soveel as ses Springbokke moet klaarkom wanneer die seisoen die naweek hervat. Die direkteur van rugby, John Dobson, glo egter daar is genoeg diepte vir Saterdag se kragmeting teen Munster in Ierland. Die gasheer is tans tweede op die punteleer. Albei spanne is onoorwonne op 23 punte, maar die Kaapse span het ‘n punteverskil van 118 teenoor Munster se 36. Die Stormers het nog nooit op Thomond-park gewen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-580-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-131-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….