Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 November 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Washington het ‘n diplomatieke nota aan Pretoria gestuur waarin die VSA Suid-Afrika waarsku dat geen verklaring sonder Amerika aanvaar kan word nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens Lood de Jager se appèl teen die rooikaart wat hy ontvang het vir ‘n gevaarlike duikslag op Thomas Ramos van Frankryk, was nie geslaagd nie. De Jager sal dus nie Saterdag vir die Bokke teen Ierland uitdraf nie.
Dan skryf die webblad president Donald Trump se laaste poging om die G20-beraad in Suid-Afrika te kelder gaan volgens Suid-Afrika nie werk nie. Daar word berig oor Trump se dreigement, maar die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê Suid-Afrika sal konsensus verkry van die lande wat bywoon. Die VSA het geen sê in ‘n beraad wat hy boikot nie.
En laastens is daar nuus oor die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba wat opsygestaan het na sy eerste verskyning in die hof op aanklagte van korrupsie en bedrog.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het sogenaamde “donker magte” beskuldig dat hulle probeer om die G20-beraad in die wiele te ry met massiewe kragonderbrekings. ‘n Wydverspreide kragonderbreking het Tshwane gisteroggend getref, net dae voor die beraad hierdie naweek.
En tweedens word berig lesers word gewaarsku teen gevaarlike gewigsverliesprodukte.
# Sowetan:
Berig ook oor die regering se reaksie op Amerika se dreigemente oor die G20-beraad. Een van die sleutelspelers, Frankryk, het die VSA se planne om die beraad te ontspoor geïgnoreer.
# En The Citizen:
Skryf die vier-miljard-rand wat bewillig is om Johannesburg se waterprobleme op te los is nie werklike geld nie. Dis slegs ‘n rekenkundige inskrywing deur die Tesourie wat volhou die fondse is reeds in Johannesburgse besit.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met Trump se planne om die G20-beraad te ontspoor soos berig deur Netwerk24.
En tweedens skryf die koerant die luukse Bloutrein is in Kimberley met klippe bestook toe dit gestop het vir ‘n besoek aan die mynmuseum. Buitelandse toeriste was erg geskok.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die Nasionale Raad van Provinsies ondersteun die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane se plan om soldate te ontplooi om die megaprojekte in die provinsie te beskerm.
En tweedens skryf die koerant die onuitvoerbare planne vir ‘n lughawe by Komani is sterk veroordeel.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die magstryd in die DA in KwaZulu-Natal is besig om toe te neem wat die verhouding met die ANC in die provinsie negatief beïnvloed.
En berig daar bestaan kommer oor die voorkoms van asbes by KwaZulu-Natalse skole.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Sinomine Tsumeb Smelter het glo werkers se ure en salarisse eensydig met tot 80-persent verminder.
Dan skryf die koerant langtermyn-toeroperateurs kan nie permanente eienaarskap van roetes binne ’n nasionale park eis nie.
En laastens is daar nuus oor ‘n unieke handgeskrewe Bybelprojek. Deelnemers gaan al 33-duisend verse van die Bybel met die hand oorskryf.