Nuus 06:00
BULLETIN 20 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is ‘n sterk Amerikaanse teenwoordigheid by die B20-beraad ten spyte van Trump se G20-boikot
# Malusi Gigaba het opsygestaan
# En rugby: Die Bokke verwag Saterdag hul moeilikste toerwedstryd teen Ierland
# Die B20-handelsberaad in Sandton het met ‘n sterk Amerikaanse teenwoordigheid geopen, ten spyte daarvan dat president Donald Trump Amerikaanse regeringsamptenare verbied het om die G20-leiersberaad hierdie naweek by te woon. Volgens News24 het die voormalige minister van Finansies, Trevor Manuel, gesê die globale stelsels is stukkend en versoek dat lande moet saamwerk. President Cyril Ramaphosa het vroeër gesê die G20 sal soos beplan voortgaan, selfs sonder Trump. Sleutelleiers, insluitend die Russiese president Vladimir Putin en die Chinese president Xi Jinping, sal ook afwesig wees.
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het vrywillig uit sy ANC-verantwoordelikhede onttrek. Dit volg nadat hy aangekla is van bedrog en korrupsie oor Transnet se omstrede multimiljard-rand lokomotiefverkrygingsooreenkoms. Gigaba, tans die medevoorsitter van die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging, is die vyfde beskuldigde in die korrupsiesaak waarby voormalige Transnet-bestuurders betrokke is. Die ANC het Gigaba se besluit verwelkom en sê dat hy respek vir organisatoriese prosesse toon en opgetree het om die integriteit en reputasie van die beweging te beskerm.
# Sakeman Brown Mogotsi is daarvan beskuldig dat hy die Madlanga-kommissie in Pretoria tydens sy getuienis mislei het. Getuienisleier Matthew Chaskalson sê Mogotsi se bewerings dat Vusimuzi “Cat” Matlala omkoopgeld betaal het, was ‘n misleiding. Mogotsi het ook beweer dat hy in die geheim vir Misdaadintelligensie werk en dat KwaZulu-Natal se polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi en AmaZulu King Misuzulu kaZwelithini vir die CIA gewerk het, maar kon geen bewyse lewer nie. Chaskalson waarsku Mogotsi se bewerings kan samesweringsteorieë oor staatsveiligheid aanwakker:
# Die Vryheidsfront Plus het Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, gekritiseer omdat hy vyf-miljoen-rand bestee het aan G20 maatskaplike beraadlokale sonder begrotingsgoedkeuring terwyl inwoners verbrokkelende dienste moet verduur. Dit sluit in langdurige kragonderbrekings, watertekorte, rioolstortings en onverwyderde vullis. Jennifer Glover sê die party eis duidelikheid oor die befondsingsbron, die goedkeuring van die Tesourie en die beskerming van noodsaaklike dienste, maar het geen reaksie ontvang nie. Glover sê die metro gee voorkeur aan prestige bo inwoners se basiese behoeftes:
# Die dodetal in die Russiese hommeltuig- en missielaanval op die westelike stad Ternopil in Oekraïne het tot 25 gestyg, insluitend drie kinders. ‘n Totaal van 73 mense is beseer, 15 van hulle kinders, toe hommeltuie en missiele twee woonstelblokke getref het. Dit is een van die dodelikste Russiese aanvalle op westelike Oekraïne sedert die oorlog begin het. Rusland se ministerie van Verdediging beweer hulle het Oekraïne se militêr-industriële kompleks en energiesektor geteiken in reaksie op Kiëf se aanvalle op burgerlike teikens.
# Rugby: Die Springbokke verwag hul taaiste toerwedstryd Saterdag in Dublin wanneer hulle Ierland pak na oorwinnings oor Japan, Frankryk en Italië. Ierland se jaareind-aksie het begin met ‘n nederlaag teen die All Blacks voor oorwinnings oor Japan en die Wallabies. Die twee spanne het middel verlede jaar in Suid-Afrika laas teen mekaar gespeel toe die reeks gelykop geëindig het danksy Ierland se skepdoel laat in die tweede kragmeting. Bok-afrigter Rassie Erasmus gaan na verwagting vanmiddag sy sterkste moontlike span aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-337-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-88-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….