Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, het teenoor die Madlanga-kommissie erken dat sy ‘n regstoets verkeerd toegepas het by die beoordeling van ‘n korrupsieklagte teen die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Nkabinde-ondersoek het die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andrew Chauke, vrygespreek van alle aanklagte wat deur die voormalige NVG-hoof Shamila Batohi teen hom aanhangig gemaak is.
En tweedens skryf die webblad ‘n 70-jarige vrou is deur die Franse polisie in hegtenis geneem vir die moord op die 65-jarige Suid-Afrikaner, Karen Carter. Carter is in April 2025 agt keer met ‘n skerp voorwerp gesteek in die oprit van haar huis in Frankryk.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die waterprobleme in eThekwini raak al erger. Durban verloor 65-persent van sy drinkwater uit die stelsel en die munisipaliteit het volgens berigte 12-duisend lekkasies om te herstel. Die koerant berig daar is ook probleme met die betaling van gekontrakteerde loodgieters.
# Sowetan:
Berig ook oor Andrea Johnson se oordeelsfout en skryf dit het baie skade aangerig. Die koerant berig die Madlanga-kommissie het die ondersoekdirektoraat se mandaat en bevoegheid bevraagteken.
# En The Citizen:
Skryf die DA het ontken dat sy burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, op 75 te oud is om die stad te lei. Die party sê sy het al voorheen ANC-administrasies tot ‘n val gebring en kan dit weer doen.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die uitdagings wat die minister van Sport, Kuns en Kultuur en leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, in die gesig staar raak net groter. Die jongste verwikkeling is dat die DA ‘n klag by die Openbare Beskermer wil indien wat handel oor onregmatige aanstellings. Daar is ook vrae oor sy Sentrale Karoo-fondsinsamelingsveldtog.
Tweedens skryf die koerant die Ampsklagkomitee wil hê president Cyril Ramaphosa moet self voor die komitee verskyn. Regsadvies word tans hieroor ingewin.
En laastens is daar nuus oor ‘n Suid-Kaapse natuurreservaat wat die protea as emoji wil registreer.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die African Independent Movement het die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, 48 uur gegee om te bedank. Die party sê indien hy dit nie doen nie gaan hulle dit op nasionale vlak verder neem.
En tweedens skryf die koerant die geliefde blogger van Nelson Mandelabaai, Wayden Ben, se liggaam is onder verdagte omstandighede in Gelvandale gevind. Die polisie stel ondersoek in.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die stappe wat die Tesourie gedoen het om fondse van munisipaliteite te weerhou, begin nou ernstige probleme veroorsaak.
En tweedens word berig die verspreiding van die Ebola-uitbeking neem daagliks toe. Die koerant verwys daarna as ‘n pandemie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Teenkorrupsiekommissie van Namibië het senior bestuurders van die Namibië Instituut vir Patologie vrygespreek van strafregtelike oortredings rakende die staatsinstelling se omstrede voertuigskema van 5,3-miljoen-rand vir uitvoerende hoofde.
Dan skryf die koerant een van die wêreld se gesogste spoedseilgeleenthede, die Lüderitz Speed Challenge, se vlerke is vanjaar geknip as gevolg van ‘n tekort aan borge.
En laastens is daar nuus oor die Duitse dagblad Allgemeine Zeitung wat 110 jaar oud is.