Nuus 06:00
BULLETIN 23 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee verleng die sperdatum vir die benoeming van getuienisleiers
# Solidariteit versoek die Reserwebank om nie te oorreageer op die styging in inflasie nie
# En rugby: ‘n Sterk Bok-span sal na Buenos Aires reis om teen ‘n goeie Puma-span te speel
# Die parlementêre Ampsklagkomitee het besluit om die sperdatum vir politieke partye om kandidate vir die aanstelling as ‘n getuienisleier te benoem, te verleng. Na aanleiding van die benoemings van politieke partye, is slegs vier advokate op die kortlys beskikbaar om onmiddellik te begin. Hulle is Kate Hofmeyr, Vuyani Ngalwana, Ismail Jamie en Pule Seleka. Die komiteevoorsitter Makashule Gana sê politieke partye wil meer tyd hê om die soektog na ‘n getuienisleier te verbreed:
Die EFF-leier Julius Malema het intussen die siening verwerp dat ‘n getuienisleier wat deur ‘n politieke party benoem is om die Ampsklagkomitee te lei noodwendig polities gebonde sou wees met die party. Malema het die Patriotic Alliance se siening as ongeletterd bestempel:
# Die vakbond Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gevra om rentekoerse onveranderd te hou wanneer sy Monetêre Beleidskomitee hierdie week vergader. Volgens die vakbond is die inflasiestyging tot vyf-persent in Junie hoofsaaklik veroorsaak deur hoër brandstofpryse wat met die konflik in die Midde-Ooste verband hou, eerder as sterk verbruikersvraag. Theuns du Buisson van Solidariteit sê nog ‘n rentekoersverhoging sal min doen om inflasie te verminder, maar kan ekonomiese groei vertraag.
# Die Nkabinde-ondersoek het die Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andrew Chauke, vrygespreek van alle aanklagte wat deur voormalige NVG-hoof Shamila Batohi teen hom aanhangig gemaak is. Hy is onder andere beskuldig dat hy aanklagte van afpersing teen die voormalige KwaZulu-Natalse Valke-baas, Johan Booysen, en lede van die Cato Manor-eenheid ingestel het, en van sy besluit om voormalige Misdaadintelligensie-hoof, Richard Mdluli, nie vir moord te vervolg nie. President Cyril Ramaphosa sê hy is tevrede dat daar geen gronde is vir die gevolgtrekking dat Chauke ongeskik is om die amp te beklee nie.
# Luidens ‘n nuwe studie het ongeveer 77-duisend minder kinders wêreldwyd in die jaar tot Oktober 2025 VSA-gesteunde MIV-behandeling ontvang na veranderings aan Amerikaanse buitelandse hulp. Die studie, op die vooraand van die 2026 VIGS-konferensie wat Sondag in Brasilië plaasvind, het op ‘n jaargrondslag ‘n afname van 14-persent in pediatriese MIV-behandeling aangeteken. Navorsers sê die skerpste dalings is in Suid-Afrika, Uganda, Kenia, Zambië en Haïti. Die Amerikaanse Staatsdepartement betwis die bevindinge en sê minder kinders word met MIV besmet.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus beplan om ‘n sterk span na Buenos Aires te neem vir volgende maand se eenmalige toets teen Argentinië. Hy sê Los Pumas is ‘n goeie span wat die Bokke geklop het in hul laaste toets in Argentinië in 2024, en die Springbokke besef hoe moeilik dit is om hulle tuis te klop. Erasmus gaan die nasionale groep in twee verdeel – een vir die wedstryd teen die Pumas op 8 Augustus, met die res wat by die huis bly om te begin voorberei vir die toetsreeks teen die All Blacks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-990-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-121-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….