Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n verbeurdverklaringsbevel van 326-miljoen-rand teen die bates van die Maumela-familietrust verkry. Die koerant skryf die hof het die Batebeslagleggingseenheid toestemming gegee om beslag te lê op bates wat verband hou met die beweerde Tembisa-tenderkorrupsie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voormalige Mej. Heelal Nigerië, Chidimma Adetshina, hou. nieteenstaande haar Nigeriese paspoort, vol dat sy en haar kind Suid-Afrikaners is. Adetshina het in die Kaapstad-streekhof verskyn nadat sy as onwettige imigrant in hegtenis geneem is.
En tweedens skryf die webblad die VSA en Iran is steeds in ‘n volskaalse oorlog gewikkel terwyl daar pogings agter die skerms is om die konflik te staak.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, brigadier Julius Mkhwanazi, het aan die Johannesburgse Landdroshof gesê dat hy in ‘n romantiese verhouding met Getuie K was. Hy sê sy het beweer sy was verlief op hom met die hoop dat hulle sou trou. Mkhwanazi doen aansoek om borgtog nadat hy in hegtenis geneem is vir die beweerde diefstal van edelgesteentes ter waarde van 14,9-miljoen-rand.
# Sowetan:
Berig soos Business Day oor die beslagleggingsbevel vir die bates gekoppel aan die Tembisa-tenderkorrupsie. Die koerant lei met: “MAUMELA EMPIRE GOING… GONE!”.
# En The Citizen:
Skryf president Cyril Ramaphosa het toegegee dat die regering se wanbestuur die land se waterkrisis vererger het, maar hy sê hy plaas sy hoop op die nuwe Nasionale Agentskap vir Waterhulpbron-infrastruktuur.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die voortdurende stryd om Graaff-Reinet se naam terug te verander van Robert Sobukwe-dorp. AfriForum is betrokke en dit is nie uitgesluit dat die saak in die hof gaan draai nie. Dit blyk daar is geen aandag geskenk aan die dorp se geskiedkundige erfenis toe die naam verander is nie.
En tweedens word berig die vliegtuig waarmee die Junior Bokke van Johannesburg na Kaapstad sou reis, moes weens ‘n mediese noodgeval omdraai en teruggekeer na die OR Tambo-lughawe.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die familie van ‘n driejarige seun wat Vrydag in ‘n stormwaterdrein in Plettenbergbaai verdrink het, is steeds in skok. Volgens berigte het die kind naby die N2 saam met vriende gespeel toe die voorval gebeur het.
En tweedens skryf die koerant die motorvervaardiger BAIC SA se onderhandelings met stakende werkers het vir eers ‘n dooiepunt bereik.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf skole in KwaZulu-Natal lei miljoene rand se verliese as gevolg van misdaad.
Dan word berig daar gaan ‘n versoekskrif saamgestel word om die Albert Falls-dam wat met riool besoedel is te red.
En laastens skryf die koerant ‘n eiendomsoudit word in die vooruitsig gestel vir die provinsie se regeringsamptenare.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Okahandja se pensioenarisse sit in sak en as want na herhaaldelike besoeke aan regeringskantore het hul steeds nie antwoorde nie.
Dan skryf die koerant die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het interne tugstappe teen ’n dokter van die Onandjokwe-hospitaal, dokter Dennis Noa, gedoen. Hy het ook gister in die Ondangwa-landdroshof verskyn op ’n aanklag van verkragting.
En laastens word berig Joalette de Villiers van die televisieprogram Op pad met jou potjie is vir ’n Silwerskerm-toekenning benoem.