Nuus 06:00
BULLETIN 21 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy sien daarna uit om saam met Andy Burnham te werk
# Die DA stel ‘n wetsontwerp voor om politiek uit die Openbare Beleggingskorporasie te hou
# En die Batebeslagleggingseenheid verkry ‘n bevel teen die Tembisa-hospitaalsindikaat se bates
# President Cyril Ramaphosa sê hy sien daarna uit om nou saam te werk met die nuwe Britse premier, Andy Burnham, om bilaterale betrekkinge te handhaaf en die vennootskap tussen die twee nasies uit te brei. Burnham is Brittanje se sewende premier in ‘n dekade en neem die leisels oor by Keir Starmer, wat verlede maand bedank het. Dit bring ‘n einde aan sy termyn as die kortste dienende Arbeidersparty-premier in die geskiedenis. Ramaphosa sê Brittanje, as een van Suid-Afrika se top-vyf uitvoermarkte, word waardeer as ‘n handelsvennoot wat geleenthede vir Suid-Afrikaanse ondernemings onderhou.
Burnham, belowe intussen om ‘n nuwe politieke en ekonomiese model in te stel wat daarop gemik is om bestendigheid te herstel en openbare vertroue te herbou. In sy eerste toespraak buite Downingstraat 10 het Burnham belowe om openbare dienste te verbeter, meer werksgeleenthede te skep, geestesgesondheidsondersteuning te verbeter en in jongmense te belê. Hy het ook aangekondig sy eerste daad as eerste minister sal wees om haweloosheid aan te pak:
# Die DA het die Pensioenbeskermingswetsontwerp voorgestel om politieke aanstellings by die Openbare Beleggingskorporasie te beëindig. Mark Burke van die party sê die voorgestelde wet sal politieke aanstellings vervang met ‘n onafhanklike, meriete-gebaseerde keuringsproses en huidige of gewese politici verbied om op die OBK-raad te dien. Burke sê die hervormings is daarop gemik om bestuur te verbeter en die pensioenspaargeld van staatsamptenare te beskerm:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die regering moet ‘n kuratorskapstelsel soortgelyk aan die vir banke, vir mislukte munisipaliteite instel om dienslewering en finansiële bestuur te verbeter. Die buro voer aan munisipaliteite, anders as mislukte banke, word dikwels belemmer deur ingewikkelde wette en politieke inmenging, wat doeltreffende ingryping vertraag. Die buro meen om Nasionale Tesourie die mag te gee om professionele kurators aan te stel, kan verhoed dat munisipaliteite ineenstort, finansiële bestuur versterk, en die lewering van noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie verbeter.
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n finale verbeurdverklaringsbevel toegestaan aan die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid vir 326-miljoen-rand se bates van die korrupsiebeskuldigde sakeman, Hangwani Morgan Maumela, en sy geaffilieerde maatskappye. Volgens forensiese ondersoeke is die Maumela-sindikaat na bewering as ‘n hoogs georganiseerde netwerk bedryf wat die verkrygingstelsels by die Tembisa-hospitaal sistematies gemanipuleer het. Hulle het glo opgeblase tenders en kontrakte ter waarde van ongeveer twee-miljard-rand ontvang. NVG-woordvoerder Kaizer Kganyago sê die bates wat verbeurd verklaar is, sluit in luukse woonhuise in welgestelde gebiede en luukse voertuie:
# Fietsry: Deelnemers aan die uitmergelende Tour de France is woedend omdat ryers in die middel van die nag wakker gemaak word vir opkikkertoetse. Die verdedigende kampioen Tadej Pogačar van Slowenië het die situasie as onmenslik bestempel. Dit volg nadat die voormalige kampioen, Jonas Vingegaard van Denemarke, bevestig het dat hy om twee-uur die oggend wakker gemaak is, en Pogačar om vyfuur. Vingegaard het na ‘n ongeluk tydens die 15de skof Sondag aan die wedren onttrek. Ander fietsryers beskryf die toetsing as ‘n algehele gebrek aan respek vir die deelnemers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-90-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….