Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC is besig om sy burgemeesterskandidate vir die verkiesing te finaliseer en die ANC-veteraan, Frank Chikane, se naam word genoem as kandidaat vir Johannesburg teen Helen Zille van die DA.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor Spanje se sokkerspan wat gisteraand Argentinië met 1-0 getroef het om die Wêreldbeker te verower.
En tweedens skryf die webblad die gewilde Smitswinkel-restaurant en plaasstal in Oudtshoorn is in ‘n brand vernietig.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig oor die skerp styging in vleispryse die afgelope maande wat gesinne nou dwing om ander bronne van proteïene te soek om vleis te vervang.
# En The Citizen:
Skryf oor werknemers wat te bang is om af te tree aangesien werkgewers nie hul pensioenfondsbydraes oorbetaal het nie en hul toekoms nou onseker is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die DA het ‘n aansoek ingedien onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die langverwagte tussentydse Operasie Prosper-verslag van die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te bekom. Die party sê die Weermag se betrokkenheid het geen effek gehad op bendegeweld nie.
En tweedens skryf die koerant, van die 31-miljoen-rand wat die belastingbetaler moes opdok vir die regering se bywoning van die Wêreldbeker-sokker, was byna agt-miljoen vir die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie en sy span se reiskoste.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n sakeman van die Oos-Kaap, Rob Evans, wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie, Vanessa van Rensburg, in April verlede jaar by sy vakansiehuis in Oesterbaai vermoor het, is terug in die hof.
En tweedens skryf die koerant oor die afsterwe van ‘n bekende inwoner en gemeenskapsleier van Gqeberha, die 76-jarige luitenant-kolonel Graeme John Lombard.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig een van KwaZulu-Natal se belangrikste varswaterbronne, die Albert Falls-dam, is luidens ‘n verslag wat nou uitgereik is, onder druk weens besoedeling, insluitend rioolbesoedeling.
En tweedens skryf die koerant vyf mense is gister dood in ‘n ongeluk op die R-612 naby Braemar aan die KwaZulu-Natalse Suidkus.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Stad Windhoek se paaie dra 41-persent van Namibië se voertuie. Dit is sowat 182-duisend-en-89 voertuie. Die stad sê die bou van paaie gaan nie alleen verkeersopeenhopings oplos nie.
Dan skryf die koerant Windhoek het sy tariewe met vier-persent verhoog.
En laastens is daar nuus oor die Namibiese leerder, Kadhikwa Amutenya, wat by ‘n Arktiese ekspedisie gaan aansluit.