Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor president Cyril Ramaphosa se hofaansoek teen die artikel 89-verslag. Die koerant skryf regter André le Grange het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir Ramaphosa se advokaat, Wim Trengove SC, gesê die president glo oënskynlk dat sy woord meer gewig moet dra as die bewyse teen hom.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Nigerië en Ghana probeer Suid-Afrika afsonder en gebruik die migrante-krisis om dit aan te blaas.
En tweedens skryf die webblad die viltpen waarmee Buzz Aldrin in 1969 ‘n kritiese fout in die Appolo 11-maantuig herstel het, gaan in New York opgeveil word en kan meer as 19,5-miljoen-rand haal.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party is al ‘n geruime tyd bewus van die MK-party se voornemens om die voormalige eThekwini-burgemeester Zandile Gumede te werf. Hy sê Gumede se besluit sal nie die ANC se voorbereidings vir die komende plaaslikeregeringsverkiesings in November benadeel nie.
# Sowetan:
Lei met: “CYRIL’S BID TO AVOID HUMILIATION”. Die koerant berig die Ampsklagkomitee se regspan het gewaarsku dat indien die pesident se aansoek toegestaan word, sal dit die oppergesag van die reg en die beslissing van die Konstitusionele Hof ondermyn.
# En The Citizen:
Skryf die SAPD het tot op hede ‘n skamele 15-miljoen-rand bestee uit sy begroting van een-miljard-rand vir misdaadvoorkoming terwyl bendes ‘n skrikbewind voer in sekere gebiede.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor Ramaphosa se hofaansoek. Die koerant skryf die Ampsklagkomitee se regspan het aangevoer dat ‘n tydelike staking van die komitee se werksaamhede dalk tot ontduiking kan lei.
Dan skryf die koerant die 39-jarige vroueskeidsregter, Aimee Barrett-Theron, het Wêreld-rugby en SARU in kennis gestel dat sy vir eers fokus op herstel. Sy is met borskanker gediagnoseer.
En laastens is daar nuus oor die lae slaagsyfer in die nuwe e-toets vir rybewyse.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die sekuriteit by staatshospitale in Nelson Mandelabaai gaan teen ‘n koste van 76-miljoen-rand opgradeer word.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n man wat aangeval is deur ‘n groep rowers wat soos polisiebeamptes vermom was.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is ‘n dringende poging om die uitrol van AARTO Fase 2 te stop. Die Organisasie teen Belastingmisbruik het ‘n aansoek by die Hooggeregshof ingedien om die wettigheid van die regering se besluit te hersien. OUTA voer aan die regering het geen sleutelwaarborge ingestel nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Onderwys het sonder om ’n openbare tender uit te reik, ’n kontrak van 540-miljoen-rand aan die Namibië Opleidingsowerheid toegeken om vir ses maande kos aan regeringskoshuise te verskaf.
En tweedens skryf die koerant ’n Ghanese sakeman wat eens geloof is vir sy hulp om Wes-Afrika se markte vir Namibiese beesvleis te ontsluit, skuld Meatco 300-duisend-rand vir produkte wat aan die Ghanese mark verskaf is.