Nuus 06:00
BULLETIN 22 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê Suid-Afrikaners het gewoond geraak om sonder betroubare krag klaar te kom
# Fase 2-beurtkrag word onbepaald ingestel
# En, vloedgeteisterde distrikte in KwaZulu-Natal word tot rampgebiede verklaar
# Die DA-leier John Steenhuisen sê Suid-Afrikaners is gedwing om daaraan gewoond te raak om sonder betroubare elektrisiteit en water klaar te kom. Steenhuisen het ‘n betoging gelei gemik op die ontbinding van die ANC-EFF eThekwini-munisipaliteit en die amptelike bekendstelling van die party se veldtog om KwaZulu-Natal in die 2024 algemene en provinsiale verkiesings te red. Hy sê die ANC het homself oortuig Suid-Afrikaners sal hom nooit aanspreeklik hou vir alles wat hy van hulle weggeneem het nie:
Intussen het Eskom vanoggend om vyfuur met fase twee-beurtkrag begin, wat tot verdere kennisgewing sal voortduur. Die kragvoorsiener het laat Saterdagaand beurtkrag opgeskort en gister vir die grootste deel van die dag daarmee volgehou. Eskom sê die opskorting van beurtkrag was te danke aan ‘n laer-as-verwagte aanvraag en verdere effense verbetering in opwekkingskapasiteit. Die nutsmaatskappy voeg by hy sal kommunikeer indien die netwerk enigsins beduidend verander.
# ’n Dertig-jarige vrou wat gearresteer is omdat sy na bewering ‘n dodelike brand begin het wat ’n gebou in Commissionerstraat in Johannesburg se middestad verswelg het, sal na verwagting vandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Twee mense is dood, vier is beseer en minstens 15 is uit die tweeverdiepinggebou gered. Die Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda, sê die beweerde eienaars van die gebou kon nie voldoende bewyse lewer dat hulle wel die eienaars is nie:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, het vloedgeteisterde distrikte in KwaZulu-Natal as rampgebiede verklaar. Die distrikte, waaronder Uthugela, eThekwini en Ugu, word sedert verlede maand deur stortreën geteister. Drie-en-twintig mense is reeds dood met paaie en infrastruktuur wat ernstig beskadig is. Nkadimeng sê die rampverklaring sal die provinsiale regering in staat stel om sy begrotings te herprioritiseer en so gou moontlik met herstelwerk te begin. Die skade beloop nagenoeg 2,5-miljard-rand.
# Rusland se ministerie van Buitelandse Sake het die dodelike aanval op ‘n mark aan die buitewyke van Donetsk in die ooste van Oekraïne as ‘n barbaarse terreuraanval teen burgerlikes veroordeel. Minstens 25 mense is dood en sowat 20 beseer, insluitend twee kinders. Donetsk is een van vier Oekraïnse streke wat Moskou in 2022 as Russiese grondgebied verklaar het. Die anneksasieproses is onder internasionale reg onwettig. Die ministerie van Buitelandse Sake het Oekraïne daarvan beskuldig dat hy die aanval met Westerse wapens uitgevoer het.
# Gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis, sê hy sluit nie die moontlikheid uit van ‘n titelgeveg teen Israel Adesanya van Nieu-Seeland by die komende 300-jarige feesvieringe van die UFC nie. Hy het die verdedigende kampioen, die Amerikaner Sean Strickland, gister in ‘n venynige vyfronde-geveg in Toronto, Kanada, verslaan om die UFC-middelgewigtitel te wen. Du Plessis sê dit is niks persoonlik om teen Adesanya te wil veg nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-302-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….