Nuus 06:00
BULLETIN 16 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê ‘n ampsklagondersoek voor ‘n hofhersiening sal onregverdig wees
# Iran dreig om alle energie-uitvoere uit die Midde-Ooste te verhoed
# En gholf: Agt Suid-Afrikaners slaan vandag af op Royal Birkdale
# President Cyril Ramaphosa het die Hooggeregshof in die Wes-Kaap versoek om die Parlement se ampsklag wat verband hou met die Phala Phala-saak tydelik te staak. Die president se prokureur, Wim Trengove, het aangevoer die Parlement het nie genoeg bewyse om ‘n ampsklagondersoek te regverdig nie en die president kan onbillike reputasieskade ly as die proses voortduur voordat die hof die paneel se verslag hersien. Trengove het aan die hof gesê die versoek is vir ‘n kort vertraging van twee tot drie maande:
# Die sekretaris-generaal van die ANC en voormalige minister van Polisie, Fikile Mbalula, het voor die Khampepe-kommissie getuig besluite oor kriminele ondersoeke is die verantwoordelikheid van wetstoepassingsagentskappe, nie die minister van Polisie nie. Mbalula het voor die kommissie verskyn wat beweerde inmenging in sake van die Waarheid- en Versoeningskommissie ondersoek. Hy wou ook nie kommentaar lewer oor vergoeding vir slagoffers nie, en het bygevoeg die kommissie moet duidelik wees oor sy mandaat om te verhoed dat valse verwagtinge geskep word:
# Twee nie-uitvoerende direkteure van die beleërde Openbare Beleggingskorporasie het bedank weens hulle kommer oor bestuur. Thabi Nkosi en Nosiphiwo Balfour se bedanking kom dae nadat die direksie besluit het om uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, voorlopig te skors na ‘n fluitjieblaser se bewerings van onbehoorlike bestuur. Die hoof finansiële beampte, Batandwa Damoyi, is as waarnemende uitvoerende hoof aangestel. Intussen het die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor begin met ‘n ondersoek na die OBK en gesê hulle is bekommerd oor die onlangse verwikkelinge rakende bestuur, leierskapbestendigheid en deursigtigheid.
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Matthew Chaskalson, het sakeman Suliman Carrim gekritiseer omdat hy nie geouditeerde of ongeouditeerde finansiële state vir drie maatskappye, Ziggy, Tasmica en Tamiz, verskaf het nie. Chaskalson sê die maatskappye het honderde miljoene rande van Noordwes-regeringsinstellings ontvang en lewer steeds dienste aan staatsondernemings. Hy het aangevoer Carrim se mediese nota het nie verduidelik waarom die aangevraagde dokumente nie ingedien is nie:
# Iran het gedreig om alle energie-uitvoere uit die Midde-Ooste te stop, na die VSA sy vlootblokkade teen Iranse hawens herstel het. Die twee lande het mekaar gister vir ‘n vyfde dag aangeval. Iran se Rewolusionêre Wag sê die uitvoer van olie en gas uit die streek sal óf vir almal óf vir niemand wees nie. Hy het bygevoeg die Straat van Hormoes sal gesluit bly totdat die VSA sy dade van aggressie beëindig. Minstens 30 burgerlikes is die afgelope dae in Amerikaanse aanvalle in suidelike Iran dood.
# Gholf: Agt Suid-Afrikaners slaan vandag af in die 154ste Ope op Royal Birkdale in Engeland. Hulle is Hennie du Plessis, Casey Jarvis, Jayden Schaper, Michael Hollick, Shaun Norris, MJ Daffue, Jack Buchanan, en Aldrich Potgieter, wat die beseerde Louis Oosthuizen se plek in die toernooi oorneem. Dit is die elfde keer dat hierdie toernooi op die baan in Merseyside gespeel word. Scottie Scheffler van Amerika het verlede jaar die toernooi op Royal Portrush in Noord-Ierland gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-837-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-59-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….