Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het bekend gemaak die voorkoms van MIV onder swanger vroue wat regeringsklinieke bywoon, het in 2022 met 2,5-persent tot 27,5-persent gedaal. Dit is die laagste vlak in twee dekades.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig terwyl sowat 800 mediese dokters in Suid-Afrika nie kan werk kry nie, styg die eise vir mediese nalatigheid in staatshospitale steeds. In sommige gevalle is die eise hoër as provinsiale gesondheidsbegrotings.
En tweedens skryf die koerant twee mense het omgekom in kitsvloede in Johannesburg. Die Weerdiens het nog storms vir die stad voorspel.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe sê die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula moet die kans gegun word om in sy rol in die party te ontwikkel.
En tweedens berig die koerant oor die begrafnis van die ikoniese fotojoernalis Peter Magubane.
# Sowetan:
Berig hoewel daar meer as 200 klagtes ontvang is teen die verskaffers van skoolklere, het die Mededingingskommissie nog geen saak aanhangig gemaak nie.
# En The Citizen:
Lei met “U.S. SLAMS SA’S GAZA CASE”. Die koerant skryf die VSA is van mening Suid-Afrika se saak teen Israel is onnodig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die NG Kerk sê hy sal Oscar Pistorius met ope arms ontvang. Hy sal ook welkom wees om gemeenskapsdiens daar te doen.
En tweedens skryf die koerant oor die koue weersomstandighede wanneer die Cheetahs die naweek in Amsterdam uitdraf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die nuus oor die 140-miljoen-rand wat belastingbetalers sedert 2018 moes betaal vir die presidensiële straler, Inkwazi. Sowat nege-miljoen-rand daarvan is aan spyseniering bestee en die meeste aan brandstof, naamlik 68-miljoen-rand.
Dan word berig die agterste nommerplaat van die voertuig wat verbind word met die moord op Bongeka Bidi in die Strand, was verwyder toe die polisie die voertuig opgespoor het.
En laastens is daar nuus oor die 25-jarige chihuahua van Mitchells Plain, Fanie.
# En Cape Times:
Skryf Suid-Afrika geniet reuse-steun wêreldwyd vir sy saak teen Israel in die Internasionale Geregshof.
En berig ook oor Magubane se begrafnis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die polisie het ‘n ernstige tekort aan verblyf in Nelson Mandelabaai. Die talle nuwe lede wat in die Metro ontplooi word om die misdaadbekampingsvermoë te versterk, het nie tydelike verblyf nie.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n aanval op ‘n bejaarde egpaar van Rocklands. Volgens die gemeenskap beklemtoon dit die gebrek aan sigbare polisiëring in die landelike gebied aan die buitewyke van Kariega.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “KNIVES OUT FOR BLADE”. Die koerant skryf oor die druk waaronder van die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande verkeer.
En berig tweedens oor nog ‘n taxibaas wat vermoor is in die voortslepende taxi-oorlog in KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die eksamenuitslae van die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat gewone en gevorderde vlak is gister vrygestel.
Dan skryf die koerant die ministerie van Inligting en Kommunikasietegnologie het ’n slypskool aangebied om die Nasionale Digitaliseringstrategie vir 2024-28 te bekragtig.
En laastens is daar nuus oor foto’s van gestremde kinders by die Side by Side Early Intervention Centre deur die fotograaf Lourika Breed.