Nuus 06:00
BULLETIN 8 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa verwerp Eskom se bewerings van politieke inmenging
# ‘n Franse hof baan die weg vir Marine Le Pen om aan die 2027 presidensiële wedloop deel te neem
# En rugby: Die Junior Bokke klop Wallis en haal die Junior Wêreldkampioenskap-halfeindronde
# Business Leadership South Africa verwerp bewerings deur Eskom se raadsvoorsitter, Mteto Nyati, dat sy steun vir die hervorming van die elektrisiteitsoordragstelsel op politieke inmenging neerkom. Die organisasie voer aan die afsondering van Eskom se oordragbates strook met regeringsbeleid en is noodsaaklik om bestuur te verbeter, botsende belange uit die weg te ruim en beleggings te lok. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê in haar weeklikse nuusbrief die ooreengekome beleid oor elektrisiteitsmarkhervormings en transmissie-ontbondeling moet sonder verdere vertragings ingestel word.
# Die Konstitusionele Hof het ‘n uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof gehandhaaf wat sekere bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik en ongeldig bevind het. Die saak is aanhangig gemaak deur die Scalabrini-sentrum van Kaapstad, Regslui vir Menseregte en ander organisasies. Die hof het bevind dat enige persoon wat asiel soek, nie toegang tot die stelsel geweier kan word, bloot omdat die vereiste dokumente nie verskaf is, of daar binne die vasgestelde vyfdae-venster by ‘n vlugtelingskantoor aangemeld is nie. Die hof het herbevestig dat elke asielaansoek op individuele meriete beoordeel moet word.
# Action Society sê die 292 geboortes wat tussen April en Desember verlede jaar onder meisies van 10 tot 14 jaar in die Wes-Kaap aangeteken is, behoort elk tot ‘n misdaadondersoek te lei. Die organisasie sê elke kinderswangerskap moet as ‘n kinderbeskermingsaak behandel word om te bepaal of seksuele misbruik of uitbuiting plaasgevind het. Juanita du Preez van Action Society sê kinders moet beskerm word voordat hulle swangerskapstatistieke word:
# Die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings het ‘n beweerde sluipmoordkomplot veroordeel waarin ‘n senior amptenaar geteiken is. Die amptenaar het na berigte gewerk om korrupsie te stop waar staatsgesubsidieerde huise onwettig verkoop is. Die departement sê twee verdagtes, insluitend een van sy administratiewe klerke, is deur die Valke in hegtenis geneem. Tahir Sema van die departement sê behuisingstoekennings en subsidiegoedkeurings van die Ekurhuleni-streekkantoor is tydelik opgeskort hangende ‘n interne oudit:
# Frankryk se verregse National Rally-partyleier, Marine Le Pen, kan vir volgende jaar se presidentsverkiesing staan. Dit volg nadat die Parys-appèlhof haar skuldigbevinding vir die verduistering van fondse van die Europese Parlement gehandhaaf het, maar haar vonnis verkort het. Die hof het haar politieke onbevoegdheid van vyf jaar tot 45 maande verminder, waarvan sy reeds 30 maande uitgedien het. Le Pen sal die oorblywende jaar onder huisarres met ‘n elektroniese armband uitdien. Vier ander partylede is ook skuldig bevind aan die wanbesteding van openbare fondse.
# Rugby: Die Junior Springbokke bly op koers vir ‘n derde Wêreldrugby Junior Wêreldkampioenskaptitel, na hul 52-33 oorwinning oor Wallis vir ‘n plek in die halfeindronde in Tbilisi, Georgië. Die Suid-Afrikaanse o.20-span het die Walliesers met agt drieë teenoor vyf getroef, met kaptein Siphosethu Mnebelele en Liam van Wyk wat elk twee keer oorgeduik het. Die Junior Bokke kom nou teen Engeland te staan, en Nieu-Seeland speel Maandag teen Frankryk in die Kampioenskap-halfeindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-579-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-101-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….