Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die proses vorder om Eskom in drie selfstandige entiteite vir opwekking, transmissie en verspreiding te verdeel. Die name is bekend gemaak van die direksielede van die pasgestigte Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika. Die uitvoerende visepresident van Sasol se energie-sake-eenheid, Priscillah Mabelane is as voorsitter aangewys.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die voormalige minister van Polisie, Nathi Nhleko sê hy het nie gejok oor die sogenaamde brandpoel by oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-woning nie. Hy het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gekritiseer oor die uitlating.
Dan is daar nuus oor die oudleerder van Affies in Pretoria, Peet Botma wat tans besig is twee-duisend-700 kilometer oor die Atlantiese Osean af te lê in ‘n roeiboot.
En laastens skryf die koerant oor die hofsaak teen Chandré en Marno Mostert van Potchefstroom oor hul Pitbull-honde die tuiswerker Dipuo Kokolosi aangeval en ernstig beseer het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die kritiek teen Mbalula oor sy uitlatings oor Nkandla.
En berig ouers het ‘n pleidooi gelewer oor die koste van skoolklere.
# Sowetan:
Berig vandale wat skade aanrig aan Johannesburg se elektrisiteitsinfrastruktuur kos die stad 3,7-miljoen-rand per dag.
# En The Citizen:
Skryf die DA het president Cyril Ramaphosa se waarskuwing dat die ANC die enigste party is wat maatskaplike toelaes en studentebefondsing sal betaal as verkiesingsdreigemente bestempel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Nhleko se verduideliking oor Nkandla.
Dan skryf die koerant oor die moordsaak van die 18-jarige Hesty-Anne Green van Brandvlei. Die 19-jarige Suphren Ouers word aangekla van die moord.
En laastens word berig die ligte brand weer by die Loch Logan-waterfront in Bloemfontein nadat ‘n ooreenkoms oor die kragrekening bereik is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig twee verdagtes is vasgetrek in verband met die moord op die 41-jarige Bongeka Bidi. Sy is Maandag agter die stuur van haar voertuig in die Strand doodgeskiet.
Dan skryf die koerant die bewerings oor sogenaamde gemeenskapsdiens wat Oscar Pistorius gaan verrig is skynbaar deur die media versin.
En laastens word berig die mense van Suid-Korea word nou deur wetgewing verbied om honde te eet.
# En Cape Times:
Skryf die ANC het begin om die skade te herstel wat aangerig is deur Mbalula se uitlatings oor Nkandla.
En berig die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie raak nou betrokke by die kwessie van hoë koste van skoolklere.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die jaar het skaars begin of daar is ‘n nuwe mosie van wantroue in die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk. Boonop het een van die raadslede Van Niekerk se haarstyl gekritiseer.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Nhleko het Mbalula bestempel as die swakste sekretaris-generaal wat die ANC in 112 jaar kon oplewer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die vennootskap tussen Namibiese en Duitse maatskappye bekend as HyIron, het vir eers planne gestaak om Reptile Uranium Namibia se Shiyela-ysterprojek te koop.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur het sowat 111-miljoen-rand bestee aan skryfbehoeftes vir leerders en die geld is reeds aan al 14 streke versprei.